Die 19-jarige sanger het ’n oordadige makietie vir sowat honderd vriende gehou, maar hulle is net toegelaat as hulle die kontrak geteken het. En indien hulle nie daarby sou hou nie, sou hulle R30 miljoen moes opdok.

Volgens TMZ, wat ’n afskrif van die ooreenkoms bekom het, is gaste en werkers verbied om enigiets op Twitter of Facebook te noem of hul foon te gebruik of om op enige manier te praat oor wat gebeur het agter geslote deure in sy herehuis in Calabasas, Kalifornië.

Volgens die dokumente moes enigeen wat die reëls oortree, die bedrag opdok sonder enige uitsonderings, hoewel Justin die bedrag van R50 miljoen na R30 miljoen verminder het, volgens ’n kontrak wat vir een van sy vorige partytjies gevind is. Dit het egter nie lank geduur voor die Boyfriend-sanger sy eie, streng reëls oortree het nie, en dit het hom in die sop by die polisie laat beland nadat bure oor die geraas gekla het.

Toe hy Saterdag in sy motor klim, het hy aan ’n fotograaf gesê die partytjie was soos ’n toneel uit Leonardo DiCaprio se fliek The Great Gatsby waarin hy die skatryk parytjieliefhebber Jay Gatsby speel. “Dit was wild,” het Justin laat hoor. “Dit was Great Gatsby-soort ***, man.”

Bronne het aan TMZ gesê die rapper Snoop Lion was onder Justin se gaste, en die polisie is drie keer in die vroeë oggendure ontbied weens die geraas.