Justin Bieber wil ’n tatoeëersalon oopmaak wanneer hy ’n blaaskans van sy musiekloopbaan neem.

Die Confident-ster, wat verlede week in Miami in hegtenis geneem is vir dronkbestuur, bestuur met ’n verstrykte rybewys en verset teen inhegtenisneming, wil ’n blaaskans van musiek neem en by sy pa, Jeremy, gaan woon sodat hy ’n lyfkunssalon kan oopmaak.

’n Bron het aan RadarOnline.com gesê: “Justin het aan Scooter (Braun, sy bestuurder) en Usher (sy mentor) gesê hy het ’n blaaskans nodig van musiek maak en toer.

“Justin wil beheer oor sy lewe herwin en nie elke tweede aand in ’n ander stad op die pad wees nie.

“Sy korttermynplanne is onder meer die oopmaak van ’n tatoesalon saam met sy pa. Hulle praat al baie lank daaroor. Dit is sy droom dat dit ’n baie eksklusiewe salon moet wees, ander as enigiets wat reeds bestaan.”

Justin is ’n groot aanhanger van tatoes. Hy het meer as 20 ontwerpe, onder meer ’n tier op sy linkerarm, ’n vertolking van Christus op sy been, ’n kroon op sy borskas en die woord Jesus in Hebreeus op sy ribbekas, ’n tatoe wat sy pa ook het.

Die 19-jarige ster span in Panama uit sedert hy in Miami in hegtenis geneem is. Hy wil ook glo uit sy herehuis in Calabasas, Kalifornië, trek nadat hy sy bure ontstel het met sy gefuif. Boonop ondersoek die polisie ’n klag dat hy bure se huis met eiers bestook en R220 000 se skade aangerig het.

Sy vriende sê ’n nuwe onderneming sal die jong sanger iets gee om op te konsentreer en uit die moeilikheid help hou.

Die bron het bygevoeg: “Justin se span is bekommerd hy gaan rondsit en niks doen nie en dat hy gaan aanhou partytjie hou saam met sy pelle. Almal respekteer Justin se behoefte aan ’n blaaskans, maar hy beland gewoonlik in die moeilikheid wanneer hy te veel tyd het vir leeglê. Hy kort struktuur en ’n roetine.”