Die Beauty and a Beat-sanger, wat gisteroggend op borgtog vrygelaat is nadat hy in Miami aangekla is van dronkbestuur, verset teen inhegtenisneming en versnelrenne, ignoreer glo sy ma terwyl sy hom probeer oorreed om na ’n rehabilitasiesentrum te gaan.

’n Bron het aan die webtuiste MailOnline gesê: “Justin luister nie na sy ma nie, en hy vermy haar en ander mense in sy span.”

Die 19-jarige ster se pa, Jeremy Bieber, was by toe hy in hegtenis geneem is. En nadat Justin erken het hy het gedrink en dagga gerook, het hy ook aan polisiebeamptes gesê hy het medisyne teen angstigheid gedrink wat Pattie vir hom gegee het.

Maar die bron sê: “Pattie is regtig baie besorg oor haar seun. Sy is die afgelope paar weke baie hartseer en bekommerd.

“Mense dring aan hy moet hulp kry, maar hy wil nie. Hy sê hy het dit nie nodig nie en dit is vir Pattie baie ontstellend. Ons is by ’n punt waar hy tussen mense is wat ’n slegte invloed is, maar hy word op 1 Maart 20 en jy moet jou eie besluite neem. Hy kan nie gedwing word om vir rehabilitasie te gaan nie.”

Volgens Access Hollywood Live  het Justin se jare lange bestuurder, Scooter Braun, intussen ’n ultimatum aan Justin gestel en gedreig hy gaan bedank as die ster nie hulp kry nie.