Justin Bieber het glo Dinsdagaand twee meisies na sy hotelkamer geneem nadat hy wild partytjie gehou het.

Die Never Say Never-sanger en van sy vriende het by die restaurant Darby in New York aandete geëet en is later saam met twee skoonhede na die nagklub 1 Oak.

’n Verteenwoordiger van die Darby het aan die koerant New York Post gesê: “Daar is nie vir Justin drank voorgesit nie en niemand in sy groep het gedrink nie.”

Die 19-jarige Justin het daarna glo ydel opgetree by die nagklub 1 Oak vir mense ouer as 21 en sy duur juwele oor die partytjiehouers rondgeskud.

Mollye Rogel, wat haar internskap by die modehuis Chanel doen, het getwiet: “Eindig die aand met @justinbieber wat sy goue ketting oor die mindere mense van 1oak #ifyouweremyboyfriend (sic) skud.”

Die Britse model Louise Dove het bygevoeg: “Justin Bieber skud ’n medaljon van diamante en goud in 1 Oak. Waarskynlik die beste ding wat ek nog gesien het.”

Justin het dié week wild in New York partytjie gehou en ook ’n nuwe tatoe van ’n oogbal in die vou van sy linkerarm gekry.

Die As Long As You Love Me-sanger het saam met die tatoeëerkunstenaar Bang Bang vir ’n foto op Instagram poseer om met sy nuwe tatoe te spog. Dit verteenwoordig glo die wakende oog van sy ma, Pattie Mallette.