Dié voorwaardes maak deel uit van ’n ooreenkoms wat glo deur die staatsprokureur van Florida aan die 19-jarige sanger voorgelê is, berig die skinderwebtuiste TMZ.

Die voorwaardes sluit in:

  • Justin moet in die komende ses tot agt maande op enige tyd en plek beskikbaar wees vir dwelmtoetse. Hy sal sy reisplanne aan die owerheid moet bekendmaak sodat die dwelmtoetse uitgevoer kan word.
  • Hy moet 40 uur gemeenskapsdiens verrig.
  • Hy moet lesse in alkoholgebruik loop.
  • Hy moet op ’n paneel dien waar hy sal moet luister na die verhale van die familielede van dronkbestuur-slagoffers.
  • Sy motor moet vir drie maande toegerus word met ’n toestel wat sy asem toets en die motor afskakel wanneer hy drink.

As Justin die voorwaardes aanvaar, kan die aanklagte teen hom vir beweerde dronkbestuur en verset teen inhegtenisneming laat vaar word.

Daar is ook ’n aanklag van roekelose bestuur teen hom. As hy daaraan onskuldig bevind word en die dwelmtoetse slaag, sal hy waarskynlik gevangenisstraf vryspring.