Justin Bieber word daarvan beskuldig dat hy in ’n platejoggie se gesig gespoeg het nadat dié hom glo in ’n nagklub wou afneem.

Die 19-jarige sanger, wie se ma, Pattie Mallette, onlangs erken het hy neem nie altyd die beste besluite nie, het die platejoggie glo verlede naweek in die BBP-deel van die nagklub Social Room in Columbus, Ohio, gekonfronteer nadat hy gehoor het hy neem hom af.

Die beweerde slagoffer het aan die stad se plaaslike radiostasie WNCI gesê: “Twee van Bieber se uitsmyters het na my toe gestap en gesê ek probeer foto’s van Bieber neem.”

Die platejoggie beweer Justin was net besorg omdat hy twee jaar jonger as die wettige ouderdom is. Hy voer aan ’n lid van die sanger se gevolg het sy foon gegryp om foto’s van hom in die klub te soek, maar niks gekry nie.

Hy het gesê Justin het hom toe met “keurige woorde” toegesnou.

Hy het verduidelik: “Hy het my ma iets genoem, hy het my pa iets genoem, hy het my iets genoem . . . en in my gesig gespoeg.”

Die platejoggie het aan die skinderwebtuiste TMZ.com gesê hy wil ’n klag van aanranding teen die Beauty and a Beat-ster lê. Hy het hom ook vir hepatitis laat toets, maar die uitslag was negatief.

’n Woordvoerder vir Justin het geweier om kommentaar te lewer, maar ’n bron na aan die sanger het gesê: “Alles verloop baie goed op die toer en dis net baie hartseer dat iemand ander mense se ongegronde bewerings herhaal vir ’n bietjie aandag.”