Daarna het die res van die veiligheidspan glo sy geheuekaart gevat waarop foto’s was van Justin wat skaats.

Jeffrey het ’n klag by die polisie aanhangig gemaak waarin hy beweer die 19-jarige sanger se veiligheidswagte het hom aangeval en sy geheuekaart gesteel nadat hy verlede Woensdag foto’s geneem het toe Justin buite die Hit Factory-opname-ateljee in Miami skaatsplank ry.

Die webtuiste TMZ.com berig verder Jeffrey beweer Justin het daarop aangedring dat Hugo hom teen ’n muur gooi. Hulle het hom glo aan die keel beetgekry en ’n geweer uitgehaal terwyl die res van die veiligheidspan die kaart met al sy foto’s op verwyder het.

Jeffrey se prokureur, Russell S. Adler, sê Jeffrey soek vergoeding omdat hy beseer is, emosionele foltering deurgemaak het en mediese kostes moes aangaan. “Justin Bieber is ’n grootmens en moet optree soos een. Hy moet leer jy kan nie lyfwagte as wapens gebruik om onskuldige mense seer te maak nie. Justin se gewelddadige gedrag teenoor fotograwe moet end kry en hy moet verantwoordelikheid aanvaar vir sy optrede.

“Geen hoeveelheid roem of rykdom regverdig Justin se skandelike en verregaande gedrag nie. Ons sal skadevergoeding eis, soos toegelaat onder die wet in Florida, om hom daardie boodskap by hom tuis te bring en sulke gedrag in die toekoms af te skrik.”

Russell het bygevoeg dat hy nie glo Hugo het ’n lisensie om in die staat Florida te werk nie, wat nog te sê ’n permit vir versteekte wapens. Justin is tydens die voorval op kamera opgeneem waar hy sy span aanmoedig en skree: “Gryp daai kamera! Kry daai ****** kamera hier weg.”

Die ontstelde fotograaf het gevra dat hulle sy besittings teruggee en die popster het geantwoord: “Goed, goed. Ek gaan jou kamera teruggee, maar ek gaan jou simkaart hou.”