Die polisie het vier klagtes oor geraas ontvang en twee oor aanhangers wat hulle tydens ’n beweerde partytjie by sy huis wangedra, het die Los Angeles Times berig. Hoewel daar geen dagvaardings beteken is nie, het beamptes gesê as die polisie besluit om dit te doen, kan hy aangekla word van die oortreding van sy proeftydperkvoorwaardes en moontlike tronkstraf opgelê word, berig TMZ.

Die Kanadese sanger (20) is twee jaar op ’n proeftydperk nadat hy nolo contendere (skuldig sonder erkenning van skuld) gepleit het op ’n aanklag van vandalisme. Justin is daarvan beskuldig nadat hy op 9 Januarie sy bure se huis in ’n omheinde gemeenskap in Calabasas, Kalifornië, met eiers bestook en sowat R200 000 se skade aangerig het.

Die popster is beveel om vyf dae gemeenskapsdiens te doen en ’n woedebeheerkursus by te woon. Hy moes ook sowat R809 000 skadevergoeding betaal ingevolge die voorwaardes van die onderhandelde skikking. Justin se volgende hofverskyning is in Miami, Florida, vir verset teen inhegtenisneming, dronkbestuur en ander verkeersoortredings.