Die slagoffer van Justin Bieber se berugte eiergooi-aanval baklei teen die sanger se uitbetaling van sowat R337 500 ($25 000) vir skadevergoeding en sê die skade wat aangerig is, oorskry R13,5 miljoen ($1 miljoen).

[caption id="attachment_153645" align="alignnone" width="600"]Justin Bieber (Foto: WENN.com) Justin Bieber (Foto: WENN.com)[/caption]

Jeff Schwartz, wat die Baby-sanger daarvan beskuldig het dat hy sy huis in Calabasas, Kalifornië, in 2014 gevandaliseer het, het in 2015 ’n siviele saak teen Justin aanhangig gemaak vir vergoeding te midde van bewerings dat die popster tydens ’n argument in 2013 op hom gespoeg het.

Hy beweer die vermeende spoegvoorval, asook ander voorvalle van dreigemente en teistering, het hom en sy vrou, Suzanne, emosionele skade berokken in die aanloop tot die eiergooi-voorval.

Justin se prokureurs het onlangs ’n skikkingsbedrag van R337 500 aangebied om sy voormalige bure se “pyn en lyding, emosionele skade en skade aan die eiendom” te dek, maar Jeff stel nie belang in die bedrag nie omdat hy glo hy verdien baie meer.

In hofdokumente wat verlede week in die hooggeregshof in Los Angeles ingedien is en wat People.com verkry het, maak Jeff se prokureur dit duidelik dat sy kliënt vir Justin wil laat opdok en sê die ware skade “oorskry $1 miljoen”.

Justin se verteenwoordigers het nog nie reageer op die jongste aansoek nie. Dit kom enkele dae nadat sy prokureurs die uitreiking van ’n video van die 22-jarige se verklaring aan die media probeer keer het. Hulle het gesê hulle is bekommerd dat die video ’n “spektakel” sal raak en dat dit “onregverdig is om dit aan die wêreld bekend te maak”.

Justin het voorheen nie skuld erken op die aanklagte van vandalisme nie en dit ook nie betwis nie, maar geëis dat die Schwartz-egpaar sielkundige evaluerings ondergaan om te bewys dat hulle steeds sukkel met die sielkundige probleme waarvoor hulle skadevergoeding eis.

Die sanger, wat sedertdien uit die buurt getrek het, is ’n proeftydperk en boete opgelê en hy moes ná die eiergooi-voorval gemeenskapsdiens doen en woedebeheerklasse bywoon.

– Cover Media