Big Concerts het ’n nuttige lys uitgereik van gereelde vrae oor en reëls vir die lang verwagte Suid-Afrikaanse been van Justin Bieber se Believe-toer wat op Woensdag 8 Mei in die Kaapstad-stadion begin.

Aanhangers word gemaan om op die reëls en aanwysings hier onder ag te slaan en sodoende ’n veilige en genotvolle ervaring te verseker.

Justin sal op Sondag 12 Mei in die FNB-stadion in Johannesburg optree.

Hier is die algemene vrae oor Justin Bieber vir die konsert in Kaapstad, met die komplimente van Big Concerts:

1. Vervoer-inligting sal by bigconcerts.co.za te kry wees en binnekort in die plaaslike media gepubliseer word.

2. As jy ’n GOLDEN CIRCLE-staankaartjie het, gaan deur die hekke by Granger Bay Boulevard tot in die Fort Wynyard (P2) -parkering in en volg die aanwysingborde.

3. As jy ’n GENERAL ADMISSION-staankaartjie het, gaan deur draaihekke 12-18 aan Granger Bay Boulevard in.

4. As jy ’n SEATED-kaartjie het, moet jy óf deur die Grand Stand aan die suidekant van die stadion óf deur die Podium aan die westekant van die stadion ingaan.

5. Klik hier om die gedetailleerde kaart van die stadion af te laai. Druk asseblief ’n kopie van die kaart uit en gee dit vir jou kinders ongeag of ’n ouer of wettige voog hulle vergesel. Dit dui die ingange en die ligging van die Lost and Found Centre aan.

6. As jy ’n kaartjie op die internet gekoop het, druk asseblief jou e-kaartjie uit en vou dit soos op die kaartjie aangedui voor jy by die stadion aankom om te verhoed dat die strepiekodes kreukel en beskadig word. Sorg dat jy jou e-kaartjie na die stadion bring, want ons kan om veiligheids- en sekuriteitsredes nie e-kaartjies by die stadion herdruk nie. Jou e-kaartjie moet ’n drukstuk van goeie gehalte wees om ’n positiewe skandering by die stadion te verseker. Let asseblief daarop dat ons nie kaartjies van enige mobiele toestelle af kan skandeer nie.

7. Vir e-kaartjies wat by bigconcerts.co.za gekoop is, gaan asseblief jou drukker se verstellings na voor jy druk. Die dokument moet in werklike grootte gedruk word sodat die voulyne tot op die rand van die papier druk. As die dokument gedruk word om op die papiergrootte te pas, sal die strepieskode te ver van die rand van die papier af druk en sal die strepieskode-skandeerders by die draaihekke nie jou kaartjie kan lees nie. Klik hier vir aanwysings oor hoe om jou e-kaartjie te vou.

8. Kinders onder 14 jaar moet deur ’n ouer of wettige voog vergesel word.

9. Kinders tussen 14 en 18 jaar wat nie deur ’n ouer of wettige voog vergesel word nie, moet die noodkontaknommer vir hul ouer of wettige voog onder die naam ICE op hul selfoon stoor of op ’n stukkie papier skryf en in hul beursie hou sodat mediese personeel die persoon kan kontak in die geval van ’n mediese noodgeval.

10. Ons het ’n Lost and Found Centre by die East Side Inner Podium van die stadion ingerig. Klik hier om na die kaart te kyk. Druk asseblief die kaart uit en wys vir jou kinders hoe om by hierdie sentrum uit te kom ingeval hulle van hul groep, ouer of wettige voog geskei word.

11. Ons het ook ’n spesiale inbelsentrum. Bel 011-7597215 as jy met die Lost and Found Centre of die stadion se beheersentrum moet gesels.

12. Maak asseblief jou kinders bedag op die gevare daarvan om met vreemdelinge te praat, enige kos of drinkgoed van vreemdelinge te aanvaar of saam met vreemdelinge in ’n motor te klim. Raai asseblief jou kinders aan om 011-759-7215 te bel of na die Lost and Found Centre te gaan as hulle besorg is oor hul veiligheid.

13. Enige minderjarige wat betrap word dat hulle drink of vir minderjariges drank gee, sal in hegtenis geneem word.

14. Kos en drinkgoed sal binne die stadion te koop wees. Geen drank mag na die stadion gebring word nie en veiligheidswagte sal toegang weier aan enige persoon wat besope is.

15. Onthou om die volgende na die optrede saam te bring:

* Kaartjie

* Identiteitsdokument (as jy drank wil drink)

* Kontant (daar is geen OTM’e op die perseel nie)

* Gepaste klere vir enige weerstoestande

16. Sambrele, kameras of opnametoetselle, onder meer iPads, word NIE toegelaat nie.

Die volledige inligting oor die geleentheid is by www.bigconcerts.co.za te kry.