.

Justin Bieber het verskoning gevra nadat hy by ’n omstrede Japannese plek geposeer het.

Die Baby-sanger het vroeër vandeesweek die Yasukuni-altaar besoek in die land se hoofstad, Tokio. Dit is opgerig ter ere van diegene wat in konflik gesterf het wat strek van die Boshin-oorlog van 1868 tot die einde van die Tweede Wêreldoorlog. Maar Justin hou vol hy was onbewus waarvoor die monument staan.

Hy het ’n foto van hom op die plek getwiet en daarby geskryf: “Dankie vir al jou seëninge.” Die plasing is intussen verwyder.

Dit het ontsteltenis veroorsaak, want lande soos China, Suid-Korea en Taiwan beskou die plek as onapologeties oor die gebeure van die Tweede Wêreldoorlog; daarom het Justin nou na aanhangers uitgereik.

Hy het geskryf: “Terwyl ek in Japan was, het ek my bestuurder  gevra om af te trek toe ek ’n pragtige altaar sien. Ek was onder die wanindruk dat altare net ’n plek van gebed is. Aan almal wat ek beledig het, ek is verskriklik jammer. Ek het jou lief, China en ek het jou lief, Japan.”

Qin Gang, ’n woordvoerder van die Chinese departement van buitelandse sake, hoop die voorval het Justin die belang van die historiese verhoudinge tussen Chinese en Japannese help verstaan.

Hy het aan die koerant South China Morning Post gesê: “Ek weet nie wat die Kanadese sanger se politieke standpunt is nie, maar China se mening oor Japannese leiers wat die Yasukuni-altaar besoek, is duidelik en bestendig.

“Ek hoop die sanger kan ná die besoek meer leer oor die geskiedenis van Japannese militarisme, en die verkeerde historiese en militaristiese uitgangspunte wat deur die altaar bevorder word.”

Justin het voorheen ongelukkigheid veroorsaak met kommentaar wat hy tydens sy besoek aan die Anne Frank-museum in Amsterdam gelewer het. Hy is ook in Januarie in hegtenis geneem omdat hy onder die invloed bestuur het.