Die sanger van die liedjie Confident het gaan kyk na ’n groot eiendom in die eksklusiewe Buckhead-gebied, waar sy mentor, Usher, woon, en wil glo graag na dié stad verhuis sodat hy nader aan die hip-hop-bedryf kan wees.

Die huis waarin Justin belangstel, het sewe kamers en is sowat 1 500 m2 groot, berig TMZ.com. Justin (19) gaan glo sy huis in Calabasas verkoop nadat ’n uitval met bure oor sy gefuif en harde musiek uitgeloop het op ’n voorval waartydens ’n buurman se huis met eiers bestook is. Die skade het R220 000 beloop. Die distriksprokureur ondersoek nog die saak, waarna die sanger moontlik aangekla kan word.

Justin se voorwaardes is sy huis mag nie van die straat af sigbaar wees nie, dit moet verkieslik geleë wees op minstens 2 ha grond en moet minstens 900 m2 groot wees.

Die sanger kyk na huise van tussen R44 en R110 miljoen en hy soek ook na ’n tweede huis in die Los Angeles-gebied, asook ’n landgoed van sowat 8 ha in die Hidden Valley-gebied.

Justin was onlangs in Atlanta waar hy saam met P. Diddy, T.I. en Rick Ross gekuier het. Terwyl hy in die stad was, het hy op Twitter geskryf: “Terug by my tweede huis. Lekker om terug te wees. Ek fokus daarop om positiewe energie op te bou.”

Atlanta was die eerste plek waar Justin, wat in die Kanadese stad Londen grootgeword het, gewoon het toe hy vanaf Kanada na Amerika verhuis het om sy musiekloopbaan van stapel te laat loop.