Hy het sy bure se huis in Calabasas, Kalifornië, in Januarie met eiers bestook.

Justin Bieber het twee jaar proeftyd gekry en moet woedebeheerklasse loop.

Die 20-jarige ster moet 12 weke klas loop (minstens een per week) en moet die slagoffer sowat R890 000 betaal vir “die ongelooflike hoeveelheid skade wat hy veroorsaak het”. Dit is deel van ’n ooreenkoms waar hy tronkstraf vryspring.

CNN berig die Confident-sanger, wat nie verplig was om die verhoor in die hoërhof in Van Nuys, Kalifornië, by te woon nie, moet ook vyf dae gemeenskapsdiens voltooi. Dit sluit in rommel optel en graffiti verwyder.

In ’n geskrewe verklaring ná die verhoor het ’n woordvoerder vir die ster gesê: “Justin is bly dat hierdie saak opgelos is en in die verlede is. Hy gaan aan met sy lewe deur op sy loopbaan en musiek te fokus.”

Die slagoffer het vroeër skattings ingedien wat voorstel die Kanadese ster, wat tydens die voorval op video afgeneem is, het R220 000 se skade aangerig omdat ’n groot deel van die eiendom oorgepleister moes word, maar die regter het gesê die koste het eintlik meer as R880 000 beloop. Hy het bygevoeg: “Die huis is ’n droomhuis.”

Ná maande se spanning tussen hom en bure het Justin die huis in die omheinde gemeenskap in Maart aan Khloé Kardashian (30) verkoop. Maar die bure het ook ’n interdik teen hom bekom, wat beveel dat hy 90 m van die buurman en sy gesin moet bly.

Intussen is Justin na bewering steeds in samesprekings met aanklaers in Miami sodat hy ’n hofsaak kan vermy wat spruit uit sy inhegtenisneming daar in Januarie. Aanklagte van bestuur onder die invloed, verset teen inhegtenisneming en die besit van ’n ongeldige rybewys staar hom in die gesig.

- Sapa