Die bekende tatoeëerkunstenaar Bang Bang, die man agter Rihanna en Katy Perry se liggaamskuns, het die tatoes op ’n hoogte van 40 000 voet aangebring. Dit was dae nadat die 20-jarige sanger in Miami aangekeer is omdat hy na bewering onder die invloed bestuur en aan ’n versnelren deelgeneem het.

Bang Bang het aan die New York Daily News gesê: “Dit was baie moeilik. Die vliegtuig het geskud. Dit was soos om ’n tatoe te probeer aanbring terwyl jy oor klippe ry . . . Ek moes vergoed en baie akkuraat werk. Ek moet erken dit het my adrenalien die hoogte in laat skiet. Ek het nie verwag dit sou so moeilik wees nie.

Dit was beslis die moeilikste tatoe wat ek nog aangebring het.

“Dit was vreeslik stamperig en die vlieënier het nou en dan uitgeroep: ‘Haai, daar is ’n bietjie turbulensie op pad.’ Ons het die holtes probeer vind wanneer die vliegtuig glad beweeg het.”

Die As Long As You Love Me-sanger het ’n reuse kruis aan sy borskas en die woord Forgive aan die regterkant van sy maag laat tatoeëer as ’n huldeblyk aan sy geloof in Jesus Christus en Sy vermoë om mense se sondes te vergewe.

Die sessie het ’n uur en ’n half geduur en Bang Bang hoop die toertjie besorg hom en Justin ’n plek in die Guinness Book of World Records.

Hy het bygevoeg: “Ek probeer vasstel of ons ’n rekord verbeter het, want ons het dit verfilm en gedokumenteer. Dit sal koel wees as ons die rekord verbeter het vir die tatoe op die hoogste hoogte.”

Justin is verhoorafwagtend ná sy inhegtenisname op 28 Januarie. Hy pleit onskuldig op aanklagte van bestuur onder die invloed, verset teen inhegtenisneming en bestuur sonder ’n geldige rybewys.