Justin Bieber het gaan sweefseil in Panama saam met Chantel Jeffries, wat glo sy nuwe meisie is.

Die Never Say Never-sanger het soontoe gevlug ná sy regsprobleme in Amerika, waar hy aangekla word van dronkbestuur, bestuur met ’n verstreke rybewys en dat hy hom teen inhegtenisneming verset het nadat hy verlede week in Miami aangekeer is toe hy aan ’n versnelren deelneem.

Chantel (21) was in die passasiersitplek toe die polisie Justin (19) verlede Donderdag in die vroeë oggendure in sy gehuurde Lamborghini voorkeer, en sy was glo ’n week lank aan sy sy. Sy het vroeër op Twitter geskryf: “God se plan is die beste plan,” en langs ’n foto van haar in ’n bikini: “Panamese sonbaai.”

Justin het intussen krisisvergaderings met sy mentor, Usher, bestuurder, Scooter Braun, en sy ma, Pattie Mallette, oor sy loopbaan gehad.

Behalwe vir die regsprobleme in Miami, word hy ook deur ’n moontlike misdaadklag in die gesig gestaar ná ’n eiergooiery by bure se huis sowat R220 000 se skade aangerig het. Die polisie in Los Angeles het gesê hulle sal binnekort bewyse aan die distriksprokureur voorlê, wat dan sal besluit of hy aangekla gaan word.