Justin Bieber probeer “ ’n beter mens wees”.

Die 20-jarige ster – wat op 5 Mei in die hof moet verskyn op aanklagte van bestuur onder die invloed, verset teen inhegtenisneming en die besit van ’n ongeldige rybewys in Januarie – is “gereed om ’n paar veranderinge in sy lewe te maak” en het hom van “slegte invloede” gedistansieer.

’n Bron het aan E! News gesê: “Hy doen meer moeite om te meng met mense wat ’n positiewe invloed in sy lewe is.”

Nuus van Justin se nuwe houding volg op sy jongste versoening met sy aan-af-meisie, Selena Gomez, saam met wie hy die naweek by die Coachella Valley-musiek-en-kunsfees in Indio, Kalifornië, deurgebring het.

Die bron het gesê: “Hy het na die mense om hom begin luister en hy besef dit is nie te laat om dinge te verander nie. Hy is kieskeuriger met sy vriende. Hy wil mense om hom hê wat hom sal help en lei, en hom op die regte pad hou.”

Die bron het bygevoeg: “Daar was onlangs ’n ware rypwording. Die hele proses was vir hom ’n groeitydperk en hy het eindelik wakker geskrik en besef wat hy moet doen om weer op koers te kom en die Justin Bieber te wees wat hy voorheen was. Hy is gereed om te verander en ’n beter mens te wees voor dit te laat is.”

Die Heartbreaker-sanger het Dinsdagaand saam met vriende in Bootsy Bellows in Wes-Hollywood gedans, maar ’n ooggetuie sê hy het hom goed gedra. “Meisies het sy aandag probeer trek, maar hy het glad nie belang gestel nie. Hy wou net daar wees, iets eet en saam met sy vriende op die musiek dans.”