Justin Bieber het glo stadiger as die snelheidsperk gery toe hy in hegtenis geneem is.

Die sanger van die treffer Heartbreaker is vroeg Donderdagoggend (23 Januarie) aangekla van dronkbestuur, verset teen inhegtenisneming en deelname aan ’n padwedren. Tog het hy glo tydens sy sogenaamde padwedren teen net 43,45 km/h gery.

Die 19-jarige ster word daarvan aangekla dat hy in ’n geel Lamborghini langs sy vriend Khalil 15 blokke ver gejaag het teen tussen 88,5 en 96,5 km/h.

’n Bron het aan die skinderwebtuiste TMZ.com gesê ’n GPS-toestel in Justin se gehuurde motor wat spoed meet, bewys albei motors het tydens hul beweerde padwedren net 43,45 km/h gery.

Net een van die motors het vir ’n kort rukkie vinniger as 80,45 km/h gery. Dit was nadat die sanger en sy gevolg ’n paar uur tevore ’n nagklub verlaat het.

Volgens die polisie het Justin, wat volgens die wet in Amerika meer as ’n jaar onder die wettige ouderdom is om alkohol te gebruik, met die inhegtenisneming na drank geruik. Tog was die alkoholvlak in sy bloed glo teen 0,014 skaars meetbaar.

Justin is Donderdag vrygelaat en het Vrydagaand (24 Januarie) uit Miami gevlieg. Hy het geweier om ’n privaat vliegtuig te bestyg wat hom sou terugneem na Los Angeles vir behandeling in ’n rehabilitasiesentrum.

So baie bewonderaars het by sy gehuurde huis in South Beach op hom gewag dat Justin se lyfwagte hom by ’n agterdeur moes uitsmokkel.