Justin Bieber se privaat straler was so vol daggadampe, die loodse moes suurstofmaskers gebruik.

Die sanger van Believe, sy pa, Jeremy Bieber, en ’n gevolg van 10 het verlede Vrydag (31 Januarie) gevlieg van Kanada na New Jersey. Hulle het waarskuwings geïgnoreer dat hulle moes ophou dagga rook. Die personeel moes drastiese stappe doen sodat hulle nie die rook inasem en dwelmtoetse druip nie, berig NBC News.

Die amptelike verslag oor die voorval lui: “Die kaptein van die vlug het verklaar hy het die passasiers, onder wie Justin Bieber, meermale gewaarsku hulle moet ophou dagga rook.”

Die 19-jarige sanger en sy pa was so “uiters beledigend” teenoor die lugwaardin, sy het in die kajuit gaan skuil.

Die verslag vervolg: “Die kaptein het ook gesê hy moes versoek dat die passasiers hul teistering van die lugwaardin staak. Hy het toe, ná talle versoeke, gevra sy moet by hom in die kajuit bly sodat sy nog beledigings kon vermy.

“Die lugwaardin het gesê die passasiers, onder wie Justin Bieber en sy pa, Jeremy Bieber, was uiters beledigend, en sy sal nie weer werk op ’n vlug waarop hulle die passasiers is nie.”

Toe die vliegtuig land, het die polisie en doeanebeamptes nader gestaan. Hoewel die vliegtuig “gestink” het na dagga, is geen dwelms in die vliegtuig of bagasie gevind nie, al het snuffelhonde die amptenare se aandag op drie van die reistasse op die vliegtuig gevestig.

Die sanger is afsonderlik ondervra, want “in vorige ondersoeke het Justin Bieber baklei en beledigend geraak toe sy veiligheidspan byderhand was”.

Hy het erken hy het dagga gerook en alkohol gebruik, maar gesê hy het nie nog dagga nie.

Volgens die webtuiste TMZ het Justin geweet die vliegtuig sal deursoek word selfs voor dit opstyg omdat hy op ’n risikolys van Amerika se departement van binnelandse veiligheid is ná sy twee onlangse inhegtenisnemings vir aanranding, bestuur sonder ’n geldige rybewys, dronkbestuur en verset teen inhegtenisneming.