Justin Bieber en Selena Gomez is weer saam.

Die 20-jarige sanger en die 21-jarige sanger agter die treffer Come & Get It het hul romanse hervat nadat hulle Maandag in Los Angeles op ’n driewielmotorfiets baljaar het en saam by ’n vriend, Alfredo Flores, se verjaardagpartytjie gekuier het.

’n Bron het aan Us Magazine gesê: “Justin en Selena is beslis nou weer saam. Hulle het heeldag saam op ’n Can-Am Spyder op Sunset Boulevard gery. Justin het bestuur, terwyl Selena agterop gesit het en aan hom vasgehou het. Hy was ongelooflik liefderik met haar; hulle het gelukkig en verlief gelyk.”

Maar een vriend glo dit gaan nie lank wees  voor die paartjie – wat al drie jaar in ’n aan-af-verhouding is – weer uitmaak nie.

Die bron na aan Justin verduidelik: “Dit is altyd ’n aan-af-verhouding. Dis elke keer dieselfde storie. Hulle is nou saam; volgende week is hulle uit. Hulle praat gedurig met mekaar, selfs wanneer jy hulle nie saam sien nie – dit verander nooit. Hulle kry stry, maak uit en raak dan weer versoen.”

Intussen het Justin mense verlede week laat gis dat hy en Selena weer saam is nadat hy ’n intieme foto van hulle twee op Instagram geplaas het met die woorde: “Ons liefde is onvoorwaardelik.” Kort daarna het hy die foto verwyder.

Die donkerkopskoonheid, wat in Januarie rehabilitasie ontvang het, het in Maart met Justin versoen geraak, maar hulle het ’n paar weke later uitgemaak nadat daar gerugte ontstaan het dat sy jaloers was op Justin se vriendskap met die 16-jarige werklikheidster Kylie Jenner.