Justin Bieber het verskoning gevra nadat ’n video uitgereik is waarin hy rassistiese grappe maak. Hy sê nou hy moet “verantwoordelikheid aanvaar” vir sy optrede.

In die video – wat verfilm is toe die 20-jarige popster 14 was – maak hy ’n grappie oor hoe hy ’n “n*****” gaan doodmaak en by die rassistiese organisasie die Ku Klux Klan gaan aansluit.

Hy het aan The Sun gesê: “Ek moet verantwoordelikheid aanvaar vir wat ek gedoen het. Om die gevolge van my foute te dra is een van die moeilikste goed wat ek al moes hanteer. Maar ek voel ek moet verantwoordelikheid vir daardie foute aanvaar en nie toelaat dat hulle voortsleep nie.”

In die video verander Justin die lirieke van sy liedjie One Less Lonely Girl wat in 2009 uitgereik is, en sing: “One less loney n*****”.

Die sanger se jongste verskoning kom enkele dae nadat hy moes jammer sê toe nog ’n video met ’n rassistiese grappie aanlyn gepubliseer is.

Justin, wat na ’n privaat oord, Playa del Carmen, in Mexiko gevlug het terwyl hy probeer kophou te midde van die drama, hou vol hy verskoon nie rassistiese taalgebruik nie en wil nie ’n slegte invloed wees op sy miljoene jong, beïnvloedbare aanhangers nie, wat hy Beliebers noem.

“Ek hoop dat die volgende 14-jarige outjie wat nie die mag van woorde verstaan nie, die fout sal vermy wat ek jare gelede gemaak het.”

Die Boyfriend-sanger het bygevoeg: “Ek vra almal weer verskoning wat ek teleurgestel en beledig het.”