Justin Bieber sê hy gee nie ’n duit om wat mense oor hom sê nie en is gelukkig met wie hy is.

Dit traak die 19-jarige min dat sy streke so die wenkbroue laat lig, soos toe hy ’n bordeel besoek het of sy bure geïrriteer het met sy gejaag in sy motors en wilde partytjies.

“Dis nie ’n geval van: Ek gee nie ’n *** om omdat ek roekeloos is en maak nes ek wil nie, maar liewer: Ek geen nie ’n *** om wat mense daarvan sê nie.

“Ek weet wie ek is en wat ek met my lewe doen en wat ek bereik het en nog as ’n kunstenaar, skrywer en mens gaan bereik. Ek is gelukkig met die man wat ek word.”

Die Believe-sanger het ook gesê hy vertrou net sy ouers en bestuurder, Scooter Braun. “Ek vertrou niemand nie,” sê hy in die nuwe uitgawe van The Hollywood Reporter. “Ek vertrou Scooter met my loopbaan; hy het nog altyd seker gemaak dat ek oukei is. En dis dit.”

Justin sê sy styl word “sterk beïnvloed deur swart kultuur”, maar dis nie toneelspel nie. “Ek dink nie daaraan as swart of wit nie. Ek probeer nie ’n sekere manier optree nie. Dis ’n leefstyl; soos om koel te wees of swag te hê. Maar ek hou nie meer daarvan om dié woord (swag) te gebruik nie. Dis nou uitgedien.”