Die sanger agter die treffer Baby was onder die gaste by die eetplek Serafina in Los Angeles in die vroeë oggendure Saterdag toe sy pel, die vervaardiger Jason 'Poo Bear' Boyd, ’n privaat partytjie daar gehou het.

Volgens TMZ.com het Justin “op ’n speelse wyse baklei” met sy pel, die akteur Kyle Massey van That's So Raven-faam, toe hy sien ’n personeellid van Serafina is besig om dit op ’n selfoon op te neem.

Volgens bronne het Justin die ou genader en hom gevra om op te hou verfilm en om die video uit te vee. Toe die man weier, het Justin hom glo aangeval.

Nog ’n restaurantwerker het die voorval by die polisie aangemeld, maar Justin het al die perseel verlaat toe die polisie daar opdaag.

Die beweerde slagoffer wou glo nie ’n klag teen Justin lê nie, maar die ondersoek na die voorval gaan voort. Justin se woordvoerders het nog nie kommentaar op die beweerde voorval gelewer nie.

Dis die 22-jarige sanger se jongste botsing met die gereg. Hy het vir meer as ’n jaar uit die moeilikheid gebly voor Woensdag, toe sy naam opgeduik het in ’n polisieverslag oor ’n bakleiery in Cleveland, Ohio in Junie verlede jaar.

Stadsowerhede ondersoek aantygings dat die popster ’n man ná ’n basketbalwedstryd van die Cleveland Cavaliers aangerand het.

Die bakleiery is op kamera vasgevang en die beweerde slagoffer sê hy het met verskeie beserings, waaronder harsingskudding, in die hospitaal beland.

Dié ondersoek duur voort.

© Cover Media