Volgens TMZ.com was Justin en sy gevolg na bewering in ’n woordewisseling betrokke toe hulle op 29 Desember 2013 ’n wedstryd van die Toronto Maple Leafs in die Air Canada-sentrum verlaat; die polisie moes ingryp.

Dis die jongste in ’n reeks regsprobleme wat die Beauty and a Beat-sanger in die gesig staar nadat hy verlede week in Miami aangekeer is vir dronkbestuur, bestuur met ’n verstreke rybewys en dat hy hom teen inhegtenisneming verset het.

Die hartebreker het glo Woensdag (29 Januarie) onskuldig op dié aanklagte gepleit. Die verhoor begin op Valentynsdag, maar Justin word nie verplig om dit by te woon nie.

Die ster word ook deur ’n moontlike misdaadklag in die gesig gestaar nadat ’n eiergooiery vroeër vandeesmaand by bure se huis sowat R220 000 se skade aangerig het

Die polisie in Los Angeles het gesê hulle sal binnekort bewyse aan die distriksprokureur voorlê, wat dan sal besluit of hy aangekla gaan word.

Justin kom van Ontario en hy kan terug na Kanada gedeporteer word nadat meer as 100 000 mense ’n petisie opgestel het om hom uit Amerika te laat skop.