Die Kanadese popster is met sy terugkeer na die land deur doeane- en immigrasiepersoneel aangehou, maar beamptes hou vol die aanhouding is deel van standaardpraktyk ná sy botsings met die gereg, soos sy inhegtenisneming vir bestuur onder die invloed in Januarie.

’n Bron het aan UsMagazine.com gesê: “Dis ’n roetine sekondêre ondervraging wat Justin nou met elke terugkoms moet deurgaan omdat hy ’n buitelandse burger is. Dis standaard, veral nadat hy in die verlede ander botsings met die gereg in Amerika gehad het.”

Justin se aanhouding kom ’n week nadat die Withuis gereageer het op ’n petisie wat vra dat die sanger na sy geboorteland gedeporteer moet word. Die Withuis het in ’n verklaring gesê: “Jammer om teleur te stel, maar ons gaan nie kommentaar hierop lewer nie. Ons laat dit oor aan ander om op mnr. Bieber se geval kommentaar te lewer, maar ons is bly dat julle begaan is oor immigrasie-kwessies, want ons huidige stelsel werk nie. Te veel werkgewers kul die stelsel deur ongedokumenteerde werkers aan te stel en 11 miljoen mense lewe in die skaduwee.”

Justin is in Februarie kortliks deur beamptes by die Teterboro-lughawe in New Jersey aangehou toe hy van Kanada vir die Superbowl ingevlieg het. Die ster se privaat vliegtuig is deursoek vir dwelms ná ’n anonieme wenk en hy is ook ondervra.