“My innige simpatie aan die familie en in besonder Liezel Summers en haar ousus, Maritha Strydom (Maria se ma),” het Jurie vroeër vandag op sy Facebook-blad geskryf.

“Ek onthou die Strydom-dogtertjies nog so goed van doerie tyd by Garsfontein skool... Dis regtig baie hartseer!”

Jurie het per e-pos aan Huisgenoot vertel hy het vir Liezel (Maria se tannie) by Hoërskool Garsfontein skoolgegee het en altyd vir Maritha en haar dogters met oueraande gesien. Maritha was haar jonger suster, Liezel, se voog. Jurie was in die vroeë negentigs ’n onderwyser daar en het later ’n voltydse musiekloopbaan gevolg.

Sy vrou, die voormalige Springbok-hoogspringer Hestrie Cloete, is familie van die Strydoms, maar het slegs met Maria se tannie, Liezel, kontak.

Maria, ’n oud-Tukkie en haar man, Robert Gropel, het Saterdag berg Everest se kruin bereik, maar sy het daarna van die lugdruk-verskille siek geraak. Die siekte staan ook as altitude sickness bekend.

[caption id="attachment_126495" align="alignnone" width="600"]Maria Strydom en haar man, Robert Gropel. Foto: Facebook Maria Strydom en haar man, Robert Gropel. Foto: Facebook[/caption]

Sy was glo nog in staat om self te loop, maar twee ure voor hulle weer terug by Kamp 3, 7 162 m bo seespieël, sou aankom, het sy in mekaar gesak. Haar man het haar probeer bybring, maar tevergeefs. Robert is uiteindelik met ’n helikopter vanaf Kamp 2, sowat 6 400 m bo seespieël, ontruim.

Die Nederlander Eric Arnold is ure tevore op dieselfde ekspedisie dood. “Sy was ’n wondervrou,” het Maria se suster, Aletta Newman, aan 7News in Australië gesê. “Sy kon enigiets doen. Sy was so talentvol en het so baie gehad om te gee.” Maritha, wat in Brisbane woon, sê sy het ’n slegte voorgevoel oor die ekspedisie gehad en het spesiaal Melbourne toe gevlieg om Maria en Robert te groet. “Ek het net gevoel ek moet gaan.”

Maria was die afgelope paar jaar ’n dosent in finansies en bankwese aan die Monash Universiteit in Melbourne. Sy en Robert – ’n veeartsnykundige – het al verskeie bergpieke geklim en was albei veganiste. Hulle wou met die tog vir mense wys dat veganiste tot enigiets in staat is.

Jurie en Hestrie woon al byna ’n dekade in Nieu-Seeland met hul twee kinders.

Lees ook op Huisgenoot.com:

Charlie Sheen voel ‘ongelooflik’ vandat hy nuwe MIV-behandeling beproef

Vin Diesel bring hulde aan wyle Paul Walker op die vooraand van die verfilming van Furious 8

Adele kap dit behoortlik uit in haar jongste musiekvideo

‘Reuse en liggaamlik intimiderende’ man verloor kop in drukverkeer en rand polisie aan