Sy het alleen opgedaag en het kort voor negeuur regs voor in die openbare galery gaan sit. Sy het tot dusver net die eerste dag van die verhoor op 3 Maart bygewoon.

Kort ná haar aankoms vanoggend het Oscar aangekom, in swart geklee. Hy het nie in haar rigting gekyk nie. Hy het in die beskuldigdebank gaan sit, sy bril afgehaal en iets in sy sak gesoek.

Sy suster, Aimee, het na June gegaan, met haar gepraat en by haar gaan kniel. Hulle het geknik en hande vasgehou.

Oscar staan tereg vir die moord op sy meisie, Reeva Steenkamp, wat op 14 Februarie verlede jaar deur ’n geslote badkamerdeur in sy huis in Pretoria geskiet is. Hy word ook daarvan aangekla dat hy die vuurwapenwet oortree het.

Verrigtinge het verlede week afgesluit met die ondervraging van kol. Giliam van Rensburg deur adv. Barry Roux (vir Oscar). Hy was die eerste polisiebeampte op die toneel.

- Sapa