In Reeva, a Mother’s Story sê June Steenkamp sy glo Oscar het jaar 29-jarige dogter ná ’n rusie geskiet en dat hul verhouding op die rotse was.

“Ek glo nie Oscar se storie nie,” skryf sy in die boek, wat uitgereik is nadat Oscar skuldig bevind is aan strafbare manslag.

Oscar beweer hy het Reeva vir ’n inbreker aangesien toe hy vier skote op ’n geslote toiletdeur in sy huis in Pretoria afvuur.

“Nie een van sy reaksies het daarop gedui dat hy beskermend teenoor haar was nie,” skryf June oor wat sy glo op Valentynsdag verlede jaar gebeur het.

“Hulle het ’n kwaai rusie gehad en sy het met haar selfoon badkamer toe gevlug.

“Ek dink hy het haar een keer geskiet en moes haar toe doodmaak omdat sy die wêreld sou kon vertel wat regtig gebeur het en watter soort mens hy regtig is. “Dit staan bo alle twyfel by ons: Sy het daardie aand besluit om Oscar te verlaat,” skryf June, en voeg by Reeva het aangedui dat sy en Oscar nie seks gehad het nie. “Ek glo hul verhouding was op die rotse. In haar hart der harte het sy gedink nie een van hulle is gelukkig nie.”

'Dit was Reeva se slegte geluk dat sy hom ontmoet het.'

“Dit was Reeva se slegte geluk dat sy hom ontmoet het, want hy sou die een of ander tyd iemand doodgemaak het. Ek glo dit.”

June het ook die pyn beskryf wat sy gevoel het omdat sy nie haar dogter in haar uur van nood kon help nie, asook oor die medikasie vir haar angs en oor haar man, Barry, sê beroerte.

“In ons ergste voorstellings dink ons aan hoe bang sy moes wees om agter ’n geslote toiletdeur te skuil met niemand om haar te beskerm nie.”

“Een koeël het die harsings uit haar kop geruk.”

June het bygevoeg terwyl sy Oscar vergewe, sal sy met hom wil praat en vrae wil vra.

“Ek het hom vergewe. Ek moet – my geloof skryf dit voor. Maar ek kan nie vergeet wat hy gedoen het nie. Ek haat wat hy aan my kind gedoen het.”

In die boek beskryf June breedvoerig die pyn van die sewe maande lange hofsaak, wat afgesluit het met ’n straf wat die staat as “skokkend lig” beskryf het.

“Ek voel die regstelsel het my in die steek gelaat,” het June gesê.

Sy het Oscar se weergawe van gebeure as “vaag en ontwykend” beskryf.

“Ek was so geskok toe hy op alle aanklagte onskuldig pleit. Hoe kan hy dit sê terwyl hy Reeva doodgeskiet het?

“Hy moet die res van sy lewe leef met die kennis van wat hy gedoen het.”