Reeva Steenkamp se ma, June, wens sy was daar om haar dogter te beskerm toe sy doodgeskiet is, het sy Dinsdag in ’n onderhoud met ITV News gesê. “Sy het haar in die toilet toegesluit; sy is geskiet en het in pyn verkeer. Ek wens ek kon daar wees om haar te beskerm,” het sy gesê.

'Dit was my kind wat daar geskree het, wat beseer en sterwend was.'

“Ek het die lewe aan haar geskenk het en dis baie moeilik vir my dat sy dood is, dat sy weg is. Dit was wat my laat huil het. Die geskree, jy weet. Dit was my kind wat daar geskree het, wat beseer en sterwend was.”

Sy sê sy was Maandag by die Noord-Gautengse Hooggeregshof om Reeva te verteenwoordig en wou hê Oscar Pistorius, die man wat haar doodgeskiet het, moet haar teenwoordigheid erken.

“Ek wou hom sien en wou hê hy moes my sien. Ek het net gevoel dis iets wat ek moet doen. Maar hy het glad nie in my rigting gekyk nie. Hy het net reguit gestap en voor hom gekyk.”

June het gesê dit is belangrik om te vergewe en om nie toe te laat dat die woede haar onderkry nie, maar het bygevoeg dat sy nooit sal vergeet wat gebeur het nie.

[caption id="attachment_69378" align="alignnone" width="600"]Reeva se ouers, Barry en June Steenkamp. Reeva se ouers, Barry en June Steenkamp.[/caption]

Sy het aan ITV News gesê haar man, Barry, was nie by die hof nie omdat hy weens die stres van Reeva se dood ’n beroerte gehad het.

“Hy is verpletter; hy kan dit nie meer hanteer nie. Dis te veel vir hom. Dit was iets wat heeltyd opgebou het. Hy het nou medikasie wat hom help, maar hy sou nooit vandag hier kon wees nie. Hy sou waarskynlik ineengestort en dalk nog ’n beroerte gehad het.”

Oscar word van moord met voorbedagte rade en die oortreding van die Vuurwapenwet aangekla.

Hy het Reeva op 14 Februarie verlede jaar deur ’n toe toiletdeur in sy huis in Pretoria doodgeskiet. Hy beweer hy het gedink sy was ’n inbreker.