“Ek kyk heeltyd na Oscar om te sien hoe dit met hom gaan; hoe hy optree. Ek is behep daarmee om na hom te kyk. Dis instinktief, ek kan dit nie verduidelik nie,” sê June.

'Ek weet nie of hy toneelspeel nie.'

“Ek dink heeltyd: ‘Kom ek kyk hoe hy dit hanteer.’ Hy was baie dramaties, die braking en gehuilery... Ek weet nie of hy toneelspeel nie.”

Die UK Press Assocation het Donderdag berig oor die Daily Mirror se onderhoud met June, wat gesê het dis “baie traumaties” om na die grafiese besonderhede van die saak te luister.

Sy sê sy was voorbereid vir sy emosionele verskoning toe hy Maandag die getuiebank betree.

“Dit het my koud gelaat. Ek het geweet dit kom. My prokureurs het my daarop voorberei.

“Ja, ek het die eerste keer gehuil, maar nie omdat hy jammer gesê het nie, maar oor die pyn en lyding wat my lieflingdogter deurgemaak het en omdat ek haar nooit weer sal sien nie.”

Oscar word aangekla van moord met voorbedagte rade nadat hy op Valentynsdag verlede jaar vier skote op ’n geslote badkamerdeur afgevuur het, waarvan drie Reeva getref en tot haar dood gelei het.

Hy sê dit was ’n ongeluk en dat hy gevrees het vir sy en Reeva se lewe nadat hy geglo het daar was ’n inbreker in sy huis in ’n veiligheidslandgoed in Pretoria.

- Sapa