TWEE jaar nadat sy ’n sterwende skoolseun se kop vasgehou het terwyl die bloed uit die gapende wond in sy nek loop, spook die nagmerries steeds by haar.

Nou die nag nog het sy gedroom hoe sy sy bloed in ’n koppie opvang en dit vir hom probeer voer sodat hy nie moet doodgaan nie.

Maar daardie verskriklike dag by die Hoër Tegniese Skool Nic Diederichs op Krugersdorp toe Jacques Pretorius (16) met ’n swaard in die nek gesteek is, kon sy nie sy lewe red nie. En vir die moedige onderwyser wat hom vergeefs hoor vra het: ‘‘Help my,’’ het alles aan die einde van nog ’n moeilike skooljaar te veel geword.

Toe besluit Juanita Lomax (31) om selfmoord te pleeg en sny haar polse in ’n leë klaskamer. Nes Jacques is sy in ’n plas bloed aangetref, maar haar lewe kon gered word.

Nou wil sy nie langer stilbly oor die hel wat sy en ander onderwysers by die skool deurmaak waar sy in haar eie, gelukkige skooldae hoofmeisie was nie. Die skool se probleme het nie met die opspraakwekkende swaardmoord begin waarvoor Jacques se medeleerder Morné Harmse (toe 18) tot 20 jaar tronkstraf gevonnis is nie, beklemtoon sy. Nog minder het dit daar geëindig.

Sy vertel van insidente van dieremishandeling, aanranding, huisbraak en verbale mishandeling wat haar so erg getraumatiseer gelaat het dat sy dit nie eens kon verduur dat kinders op die skool se stoepe by haar verbyhardloop nie. Dan het sy op haar hurke neergeval en haar ore met haar hande toegedruk.

Sy is nie ál onderwyser by die skool wat geviktimiseer is nie. ‘‘Dalk is ek net die enigste een wat bereid is om daaroor te praat,’’ voeg sy bitter by.

Dan ontvou ’n gruwelverhaal van ’n juffrou wat net ’n goeie wiskunde-onderwyser wou wees, maar wie se lewe in duie gestort het.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 6 Januarie 2010