’n Spaanse vrou wat skoolhou in die Engelse graafskap Somerset, is in die sop nadat sy haar leerlinge se mond met kleefband toegeplak het.

Priscilla Davo Ortega is ’n Spaans- en kunsonderwyseres aan die Anglikaanse skool Danesfield. Sy het na bewering haar klas 10-jariges in ’n ry laat staan en hul mond toegeplak omdat hulle nie wou stilbly en ophou giggel nie, berig die Daily Mail.

Besorgde ouers het gekla nadat hulle daarvan te hore gekom het.

Kinders wat gesukkel het om asem te haal, het die kleefband verwyder, waarna Priscilla dit na bewering weer opgeplak het.

Van die kinders het ook gekla hul lippe het gebloei nadat die kleefband afgetrek is.

“Ek was absoluut gewalg toe ek hoor wat my dogter se onderwyseres gedoen het,” het Lisa Duffield, ’n ouer, aan die Daily Mail gesê.

“Onder geen omstandighede sal my dogter deur dié onderwyseres onderrig word tot dié voorval ondersoek is nie,” het sy aan die skoolhoof gesê.

Priscilla is geskors hangende die ondersoek.

Haar familie sê hulle vermoed dat sy die kinders se mond “as ’n grap” toegeplak het en nie om die kleingoed te straf nie.

“Sy is mal oor haar werk en is baie lief vir kinders. Sy het oor niks gekla terwyl sy ’n paar weke gelede hier gekuier het nie,” het haar oom Pablo Davo uit Granada in Spanje gesê.