Jude Law is keelvol daarvoor dat sy privaat sake sy loopbaan oorskadu en dink die publiek se opvatting van hom word grotendeels gedryf deur “ongegronde” inligting.

Die 40-jarige akteur, wat aan Sienna Miller verloof was en vier kinders by sy eksvrou, Sadie Frost, en ’n dogter by die Amerikaanse model Samantha Burke het, glo die publiek se idee van hom is gegrond op “onware” inligting oor sy verhoudings.

“Ek vermoed die grootste deel van die opvatting word ongelukkig aangedryf deur goed wat oor my privaat sake geskryf word wat eerstens onwaar is, en tweedens, indien dit waar is, niks met enigiemand uit te waai het nie, en dit moet beslis nie my werk benadeel nie,” het die ster van Sherlock Holmes aan die Sunday Times-tydskrif Culture gesê.

Jude het ook die Wrecking Ball-sangeres, Miley Cyrus (20), teen haar kritici verdedig ná haar rits omstrede optredes en gesê haar sukses wys “dat die benadering werk”.

“Jong Miley Cyrus het vir ’n groot skandaal gesorg, maar sy het twee nommer-een-treffers, sy maak hope geld en sy sal aanhou dekking kry,” sê hy.

Jude het al erken hy is verlig dat hy ouer word en verskillende geleenthede aangebied word. “Vreemd genoeg is dit ’n verligting om te dink: Ek weet ek is nie meer ’n mooi jong dingetjie nie.”