Juanita du Plessis kuier alte lekker in Amerika, maar sy kom darem oor ’n paar weke huis toe.

Die Vlieg Hoog-sanger het begin Maart na Nashville in die VSA vertrek waar sy vyf weke gaan toer om ’n kykNET-reeks, Country Hart, daar op te neem.

“Ek het baie jare geglo, gehoop en gedroom oor dié oomblik. En ek is so dankbaar vir hierdie groot bederf uit God se hand,” het sy aanhangers met haar vertrek op Facebook gegroet.

Country Hart is ’n TV-reeks van 13 aflewerings wat Juanita op haar reis deur Amerika sal volg.

Sy gaan verskeie sub-Country-genres se unieke klanke ondersoek. Juanita kuier ook in die Country-koningin Reba McEntyre se ateljee en het reeds een van Nashville se top-kitaarspelers, Brent Mason, sowel as die vervaardiger Bill Deaton ontmoet.

Sy gaan boonop ’n draai maak in Austin, Texas, om die South by Southwest-fees te gaan bywoon.

-Haidee Muller