Juanita du Plessis het pas haar nuwe musiekvideo van haar treffer, Jou Volla, bekendgestel.

Maar wie is die “verliefde” paartjie in hierdie musiekvideo?

Dis niemand anders as Robbie Wessels se kleinboet Hammilton en sy meisie, van die afgelope vier jaar, Chandré Pugh, wat die langpad van Potchefstroom na Bloubergstrand in ‘n geblomde volla aanpak nie.

Die video vertel die storie van ‘n studentepaartjie wat see toe ry in hul ou afgeleefde Volkswagen Kewer.

Die aanvanklike plan was om die video oor drie dae te skiet, maar soos dit maar gaan wanneer ‘n mense lang afstande met ou karre moet ry, het die volla in Lainsburg die gees gegeee.

“Ons het dit toe maar afgeneem en deel van die video gemaak,” vertel Andrè Calitz van Blixem-produksies, die span wat verantwoordelik was vir die vervaardiging van die video.

Die Volla is ‘n 1971-model wat met spesiale waterverf geverf is. “Dis my eie Volla en hy spog steeds met sy blomme,” vertel Andrè.

Die dele waar Juanita in die video verskyn is op ‘n verlate teerpad op die N14 tussen Ventersdorp en Krugersdorp opgeneem.