Met sy eerste salaristjek van die WP het JP Duminy, destyds nog in matriek, klere gaan koop. Deesdae koop hy ietwat groter.

Op ’n pragtige Kaapse somersdag stap ons in by die 25-jarige Protea-krieketkolwer se dubbelverdiepinghuis in die spogbuurt Plattekloof in Parow buite Kaapstad. Lig stroom in deur die groot vensters en ons talm ’n oomblik om die asemrowende uitsig op Tafelberg te bewonder.

Hy is 25 jaar oud en hy woon klaar in sy droomhuis . . .

Tussen moderne meubels, grootskerm-televisiestelle en pragtige silwerware staan die foto’s van JP en sy geliefdes wat verklap dat dit inderdaad een van Suid-Afrika se belowendste jong krieketspelers is wat hier woon.

JP het ’n jaar gelede hoofopskrifte gehaal toe die Mumbai Indians hom ’n stewige R18,9 miljoen betaal het om in die Twenty20- Indiese Premierliga te speel. Hy het daarna die huis aangeskaf en sy ma en oupa met nuwe motors verras.

‘‘My ma was in trane en my oupa kon nie ophou dankie sê nie,’’ vertel hy.

Op die trapmuur pryk twee groot foto’s van hom en sy meisie, Sue Erasmus (25), ’n deeltydse model. Die twee is al langer as ’n jaar saam.

Sy erken toe sy JP destyds ontmoet het, het sy min van krieket geweet. ‘‘Maar ek het sedertdien baie daarvan op Google gelees en ’n boek gekoop wat jou alles van krieket vertel.’’ Wanneer hy saam met die Proteas gaan toer, gaan Sue gewoonlik saam.

JP is maklik om mee oor die weg te kom. ‘‘Hy is nie vol dinge nie, gemaklik en sal enigiets saam met my doen. Hy is ’n baie oulike, sexy man,’’ koer sy.

Hy speel binnekort vir die eerste keer teen Indië in die span se tuisland, en teen Valentynsdag sluit Sue haar by hom aan.

Hy erken hy is ’n bietjie angstig, veral noudat hulle sonder hul gewese afrigter, Mickey Arthur, moet speel.

As sy krieketlooppbaan eendag tot ’n einde kom, wil hy graag ’n onderneming saam met Sue begin.

Dit klink of die tweetjies dus langtermynplanne het . . .

Sien meer foto's en lees die volledige artikel in Huisgenoot van 4 Februarie.