Ons almal slaak ’n sug van verligting by die gedagte dat dit byna die einde van die jaar is en ons binnekort kan ontspan.

Maar die prys van somerklere, Kersgeskenke, vakansietoebehore en wat nog kan jou sommer maklik laat afsien van jou opwinding oor die komende feestyd.

[caption id="attachment_147108" align="aligncenter" width="600"]Foto: Diario Critico Venezuela (Flickr) Foto: Diario Critico Venezuela (Flickr)[/caption]

Gelukkig is dit op 25 November die berugte Black Friday-uitverkoping, ’n dag wat inkopieverslaafdes oor die wêreld heen laat jubel.

Ook op plaaslike bodem is kopers uit hul vel oor die vooruitsig van winkelsentrums wat afslag van tot 80 persent of meer bied, maar dit is niks vergeleke met die buitelandse kopers se histerie nie.

In Amerika maak sommige winkels reeds om middernag oop. Kopers staan ure tou om eerste binne te wees om die beste aanbiedinge op te raap.

Saam met die uitverkopings kom geweld en chaos. In die buiteland het heelparty mense al gesterf nadat hulle onder die hordes mense se voete beland het en vertrap is.

Die dag word al sedert 1932 in Amerika beskou as die amptelike begin van die tydperk waarin jy jou Kersinkopies doen. Dit word ook gereken as die mees winsgewende dag in Amerikaanse winkelverkope.

Die term “Black Friday” het glo sy oorsprong in die Philadelphia-verkeerspolisie, wat hul hande vol gehad het wanneer ’n horde voetgangers en motoriste op die Vrydag ná Dankseggingsdag ’n chaos op die paaie veroorsaak het in hul haas om by die uitverkopings uit te kom.

Deesdae verwys die woord ook glo daarna dat winkels op 25 November vir die eerste keer in maande ’n wins toon en daarom nie meer in die rooi is nie, maar in die swart. Dan is daar steeds die chaos en byna histeriese paniek wat mense beetpak wanneer hulle op die winkels toesak.

Byna al die plaaslike winkels het op die naweek van 25 November spesiale aanbiedinge.

Hier is ’n lys van ’n paar winkels wat groot afslag belowe:

spree-gif

Wenke: Oorleef so die groot koop

  1. Doen jou tuiswerk: As jy weet jy moet nog Kersgeskenke of iets soortgelyks koop, kyk vroegtydig wat op elke webtuiste of by elke winkel te koop is sodat jy nie laat na items moet soek nie.
  2. As die uitverkoping aanlyn is, kan jy solank die items in die regte kleur en grootte in jou mandjie sit en eenvoudig betaal sodra die uitverkoping begin.
  3. Vind uit wanneer die winkels oopmaak en sorg dat jy vroeg genoeg is as jy graag sekere items wil koop.
  4. Vermy groot winkelsentrums as jy alledaagse aankope soos melk en brood nodig het. Die rye gaan lank wees en die parkering min.
  5. Begroot vooraf en hou daarby! Besluit hoeveel geld jy kan uitgee en trek die kontant. Wanneer dit op is, moet jy huis toe gaan.
  6. Trek gemaklik aan en dra plat skoene. Neem ’n groot genoeg drasak of gebruik ’n trollie vir al jou inkopies. Hou ook water byderhand.
  7. Maak seker jy koop net by betroubare aanlyn winkels met veilige betaalpunte waar jou kredietkaart se inligting nie gekaap kan word nie.
  8. Dink vooruit en beplan vir verjaardae in die komende jaar of selfs winterklere vir volgende jaar. Dit is baie geld om op een slag uit te gee, maar jy kan baie geld spaar as jy teen groot afslag al jou geskenke of ’n paar ander nodige items vir 2017 aanskaf.