Hoe werk narkose en wie dien dit toe?

’n Narkotiseur is ’n mediese dokter met minstens 13 jaar se opleiding wat spesialiseer in die toedien van narkose. Narkose word toegedien om die pasiënt se gemak tydens die operasie te verseker en om dit pynloos te hou.

Verskillende soorte narkose

  • Streeksverdowing is wanneer ’n groot gedeelte van die liggaam verdoof word, soos die bolyf.
  • Plaaslike verdowing is wanneer net die geaffekteerde deel van die liggaam verdoof word, soos die hand waarop daar geopereer word.
  • Algemene narkose is wanneer jy volledig jou bewussyn verloor en “aan die slaap” is.

Watter narkose sal my kind kry?

Die toedien van narkose verskil van persoon tot persoon, afhangend van sekere faktore, soos die soort operasie wat uitgevoer gaan word, hoe die pasiënt se algemene gesondheid is, en die persoon se persoonlike voorkeur.

Jou dokter en narkotiseur sal die opsies met jou bespreek en aanbeveel watter soort narkose en graad daarvan die beste opsie vir jou kind is.

Dit is belangrik om te weet die dokter sal niks sonder jou kennis en toestemming toedien nie.

Wanneer kan my kind nie narkose kry nie?

Jou kind se geskiktheid vir narkose hang van ’n reeks faktore af; daarom is dit baie belangrik om jou kind se mediese geskiedenis deeglik met hul dokter te bespreek.

Lig jou dokter in oor:

  • Allergieë
  • Vorige operasies
  • Enige huidige siektes
  • Medikasie wat jou kind neem
  • Voorwerpe wat in die liggaam ingeplant is, soos tandkrone

Wat is die nadele of moontlike nagevolge?

Narkose kan algemene gevolge insluit, soos ’n brandpyn waar die narkose deur ’n naald toegedien is, naarheid en braking en hoofpyn of duiseligheid.

Hierdie reaksies is van korte duur en is nie rede tot kommer nie.

Ander komplikasies sluit in allergiese reaksies, en in uiterste gevalle selfs die dood. Hoewel dit baie selde is dat narkose tot die dood lei, kan dit gebeur en is dit meestal omdat die hart en brein nie genoeg suurstof ontvang nie.

Maar as jy jou kind na ’n geregistreerde mediese praktisyn neem, is die kans vir komplikasies ná narkose betreklik klein.

Hoe maak ek dit makliker vir my kind?

  1. As jou kind voor die prosedure bang is, kan jy die narkotiseur vra om die proses in eenvoudige terme aan jou kind te verduidelik. Hulle sal meer op hul gemak wees as hulle weet wat gaan gebeur.
  2. As jou kind in die verlede reeds operasies ondergaan het, kan jy dieselfde narkotiseur as voorheen probeer kry. Jou kind sal ’n bekende persoon vertrou en geruster wees.
  3. As jou kind bang is vir naalde, kan jy die dokter vra om ’n verdowingsalf aan te smeer waar die naald ingespuit gaan word.   Dit sal die vel minder gevoelig maak.

- Mieke Vlok

Bronne: napmed.co.za, atlanticanaesthetics.co.za, mm3admin.co.za, kidshealth.org, e-doc.co.za, rcoa.ac.uk

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.