Van die Paashaas tot Kersvader en die tandemuis – hierdie karakters is vir die meeste kinders deel van grootword. Vir baie ouers is dié denkbeeldige karakters ’n noodsaaklikheid wat kinders se verbeelding stimuleer. Maar moet jy dit enigsins doen?

Wat sê die kenners?

“Mites en fabels is belangrik,” sê Reyhana Seedat, ’n opvoedkundige sielkundige van Durban. “Fabels soos die Paashaas help dat kinders se verbeelding ontwikkel.”

Sy waarsku dat ouers ’n kind se ouderdom in ag moet neem wanneer hulle dié stories vertel. “Kinders ouer as vyf moet geleidelik aan die waarheid blootgestel word.”

Jenny Perkel, ’n kliniese sielkundige van Kaapstad en skrywer van die ouerskapsblog jennyperkel.com, sê ouers wat fabels wil vermy weens hul geloofsoortuigings, kan eerder ’n middeweg vind. “Jy kan jou kinders met Bybelverhale sowel as fabels grootmaak,” sê sy. “Jy hoef nie die een af te skeep nie.”

Christen-ouers kan byvoorbeeld die Bybelse geskiedenis rondom Paasfees aan hul kinders verduidelik, gevolg deur’n skattejag vir Paaseiers, is haar raad. Dr. David Kyle Johnson, ’n filosofiedosent aan King’s College in Pennsilvanië, Amerika, skryf in die sielkundejoernaal Psychology Today mites en fabels is ’n onregverdigbare leuen wat jou kind se vertroue in jou kan belemmer en liggelowigheid aanmoedig.

Maar dit beteken nie jy mag nooit jou kind van die Paashaas vertel nie. Sy raad is dat jy kinders van die begin af moet inlig die karakter bestaan nie werklik nie, maar dat julle kan maak asof hy bestaan omdat dit pret en ’n lekker gesinsaktiwiteit is. So is jy eerlik met jou kinders sonder dat jy die pret en tradisie van fabels wegneem. “Jy hoef hulle nie te flous sodat hulle die fabel kan geniet nie,” skryf hy.

Hoe vertel ek my kind die Paashaas bestaan nie?

Jenny sê jy kan gerus wag tot jou kind self die waarheid begin vermoed. “Vra jou kind of sy dink die Paashaas bestaan,” sê sy. “As jou kind ja sê, los haar tot sy self die ontdekking maak.

“As sy nee sê, gebruik dit as ’n vertrekpunt om oor logika te gesels. Maar verseker jou kind al bestaan die Paashaas nie, is verbeelding en kreatiwiteit belangrik.”

Wat maak jy as jou kind ontsteld is oor die waarheid?

“Jou kind kan by sy broers of susters of skoolmaats uitvind dat die tandemuis, Paashaas en Kersvader nie bestaan nie. Dit is ’n belangrike lewensles,” sê Jenny, en leer kinders die verskil tussen fantasie en werklikheid.

“Wees simpatiek teenoor jou kind en sê vir hom jy is jammer dat hy moes hoor die Paashaas bestaan nie werklik nie. Stel dan voor dat julle steeds Paaseiers geniet, en laat hom verstaan die pret hoef nie op te hou omdat die Paashaas net ’n storie is nie.

“Die tradisies wat julle as gesin saam geniet het, kan voortgaan, selfs al glo julle nie meer in die mite nie.”

My kind voel verraai omdat ek oor die Paashaas gejok het. Hoe nou gemaak?

Jenny sê dit is normaal dat kinders soms mislei voel, maar dit beteken nie hulle gaan enige wrok koester nie.

“Verduidelik dat jy nie gejok het om hulle te bedrieg nie, maar eerder omdat jy wou hê hulle moes die pret van die Paashaas-fabel ervaar.”

My kind misbruik die situasie

As jou kind ’n fabel soos die Paashaas, Kersvader en die tandemuis misbruik omdat hy geld, sjokolade of geskenke wil hê, is dit ’n aanduiding dat jou kind gereed is vir die waarheid, sê Jenny. En wees ferm, sê sy: As jou kind op meer geld of geskenke aandring, maak dit duidelik dat die tandemuis of Paashaas nie onderhandel nie!

Wat sê ons Facebook-SuperMa’s?

Lorraine van der Schyff: “My spannetjie is 10, 11 en 12 en glo nie aan die Paashaas nie, maar beslis in die tandemuis. Sonder verbeelding kan ’n kind nie grootword nie.”

Adele Pretorius: “Ek glo die verhale laat kinders nog droom en hul verbeelding gebruik. En dat dit hulle so lank moontlik kinders hou. As hulle ophou glo in feëverhale, raak hulle groot.”

Jolandé Venter: “Dis teen my Christelike beginsels. Jammer, maar ek het geleer daar’s ander maniere om ook fantasie in te bring!”

- Mieke Vlok

Ekstra bron: psychologytoday.com