Dit was nie oor swak gedrag dat Nadira Petersen* van Kaapstad onlangs haar vyfjarige seun, Naseer*, uit sy skool moes haal nie. Nog minder het boelies sy lewe versuur. Nee, dit was sy ernstige allergie vir neute wat die bekommerde ma laat besluit het om hom liewer tuis te onderrig. Want as Naseer net ’n happie uit ’n maat se toebroodjie met grondboontjiebotter sou vat, kon dit sy dood beteken.

Hoe hanteer jy dit as jou kind met ernstige allergieë sukkel? Is al genade om hulle uit die skool te haal sodat jy self ’n wakende oog oor hulle kan hou? Wat is die ander opsies? Ons het gaan uitvind hoe ouers kan toesien dat hul kinders met allergieë so ’n veilige en normale lewe as moontlik kan lei.

Wat sê die wet?

Ingevolge wetgewing wat die toediening van medikasie beheer, mag kinders nie by die skool medisyne ingegee word nie. Onderwysers is dus dikwels huiwerig om vir leerders medisyne te gee, want hulle kan aanspreeklik gehou word as iets sou skeefloop, verduidelik Sherylle Dass, ’n prokureur by die Equal Education-regsentrum. Party skole het wel ’n allergiebeleid wat voorsiening maak vir kinders met ’n behoefte aan spesiale medikasie.

Wat as ’n allergie by die skool toeslaan?

As jou kind ernstige allergieë het, is dit belangrik om ’n plan te hê, sê Brigitte Taim, ’n woordvoerder van die gesondheidsorggroep Pharma Dynamics. Sorg dat hul registeronderwyse en al die onderwysers by wie hulle klas het, van hul allergieë weet. Sorg dat hul onderwysers noodnommers byderhand hou, en as die skoolhoof instem, ook toegang tot hul medisyne het.

Kan ek die skool verplig om vir my kind medisyne te gee?

Ouers moet uitvind wat ’n skool se allergiebeleid is voor hulle hul kind daar inskryf, stel Sherylle voor. Stel ’n ooreenkoms met die skool op ingevolge waarvan ’n onderwyser die nodige medikasie in noodgevalle aan jou kind kan toedien. Kry vir jou kind ’n voorskrif en laat ’n regskenner die ooreenkoms opstel sodat al die partye se belange beskerm word. Sherylle stel voor jy kry ’n hofbevel as die personeel van die skool weier om vir jou kind allergiemedikasie te gee.

Hoe word allergieë behandel?

Die algemeenste behandeling is ’n inspuiting in die bobeen, sê Brigitte. Dit bevat gewoonlik adrenalien, wat die kind se toestand stabiliseer. ’n Ambulans moet steeds ontbied word. Vir minder ernstige allergieë kan ’n antihistamine in tabletvorm gegee word. Dit sal die simptome verlig. Velallergieë kan met ’n salf of room behandel word.

Hoe berei ek my kind voor op noodgevalle?

Verduidelik vir hom hoe ernstig die saak is en sê met wie hy moet praat wanneer hy begin siek voel. Maak seker hy weet vir watter simptome hy moet uitkyk sodat hy dadelik kan agterkom wanneer hy ’n allergiese reaksie het. Laat jou kind ’n mediese armband dra met sy naam en van, allergie en ’n kontaknommer. Leer hom om sy medisyne op dieselfde plek in sy boektas of in sy skoollessenaar te hou sodat hy dit maklik in die hande kan kry. As hy oud genoeg is, kan jy of sy dokter hom leer hoe om homself met die medisyne in te spuit. Vra sy dokter wanneer hy oud genoeg is daarvoor; dit wissel van kind tot kind.

Die algemeenste allergieë

  • Neute
  • Suiwel
  • Graan
  • Soja
  • Skulpvis
  • Bysteke

Wat is die simptome?

  • Ouers moet oplet hoe hul kinders op kos en hul omgewing reageer, sê Brigitte Taim van Pharma Dynamics. As hulle onraad vermoed, moet hulle hul kind na ’n huisarts neem vir ’n allergietoets.
  • Die eerste simptoom is gewoonlik oë wat begin jeuk.
  • Daarna trek die keel dikwels toe en die kind sukkel om asem te haal.
  • Braking en maagkrampe kan voorkom.
  • Velirritasie en floutes is ook simptome.

* Skuilname

- Mieke Vlok

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.