Volgens Britse dierewelsynkenners wat navorsing oor troeteldiere se welstand gedoen het, loop honde wat dikwels lang tye alleen gelaat word, gevaar om depressie en skeidingsangs te ontwikkel.

Volgens hul verslag word ’n kwart van honde in Engeland so dikwels alleen gelaat dat hulle ernstige angstigheid kan ontwikkel, en die probleem is nog erger vir diere wie se eienaars lang ure werk. ’n Britse TV-dokumentêr het ook onthul dat ons besige lewe daartoe kan lei dat ons troeteldiere skeidingsangs kry, en dit kan allerhande probleme veroorsaak.
'Die gevolge (vir honde wat alleen gelos word) kan skokkend wees.'

“Die gevolge (vir honde wat alleen gelos word) kan skokkend wees, soos dat hulle op en af stap of op een plek in die rondte draai,” sê ’n woordvoerder van Dogs: Their Secret Lives.

“Ander het lang rukke aaneen geblaf en getjank, ontlas en selfs hulself beseer.”

Dr. John Bradshaw, die skrywer van In Defence of Dogs, verduidelik: “Honde vorm ’n baie sterk band met mense. Jy kan ’n hond oplei om allerhande dinge te doen en om ons gebare te verstaan. Ons verwag ons kan dan ook (aan ons honde) sê: Ons is op pad uit: Ontspan, gaan slaap, kou ’n been! Ons kom nou-nou terug.

“Hulle verstaan dit nie.”

Paws24

Hoe lank is te lank?

Sommige kenners meen dat ’n skoothond, soos ’n sjitsoe, nie langer as drie tot vyf uur alleen gelos moet word nie, terwyl werk- of waghonde tot 10 uur op hul eie kan klaarkom.

Wat jy kan doen

Honde is tropdiere wat eintlik nooit heeltemal op hul eie gelos moet word nie. ’n Speelmaat sal die gebrek aan menslike geselskap ’n bietjie draagliker maak. Honde wat lyk of hulle aan skeidingsangs ly, kan daarmee gehelp word deur hulle stadig maar seker daaraan gewoond te maak om op hul eie te wees.

Los hulle eers baie kort rukkies alleen; verleng dit dan geleidelik tot hul paniek bedaar en hulle ’n aanvaarbare tydperk kalm kan bly.

Jy gaan dalk die hulp van ’n dieregedragskenner nodig hê om dit behoorlik te doen.

Simptome

Simptome van depressie onder honde sluit in teruggetrokkenheid, onaktiwiteit en ’n verandering in hul eet- of slaappatrone. As jy vermoed jou hond is depressief, gaan eers na die veearts vir ’n volledige ondersoek om seker te

maak dis nie ’n mediese probleem nie.

Oorweeg dit om hom na ’n nabygeleë dagsorgsentrum vir honde te neem. So nie, huur ’n hondestapper wat jou hond parkie toe kan vat as dit wel depressie is.

Vra ’n afgetrede vriend wat nie meer ’n troeteldier het nie, moet ’n uur of wat kom inloer en vir jou hond ’n bal rondgooi of hom vertroetel en ’n bietjie aandag aan hom gee.

Los hope speelgoed buite en wissel dit gereeld af sodat hulle nie verveeld raak nie. Ruim tyd in om saam met jou hond te gaan stap wanneer jy tuis is; oefening is ’n belangrike deel van ’n gelukkige, gesonde hond se lewe. Jy kan vir hom sê hoe soet hy is en hoe lief jy hom het terwyl jy dit doen.

Paws24