Feit is, dit kan met die wakkerstes onder ons gebeur. Slenters om reisigers en vakansiegangers te besteel en uit te buit, kom wêreldwyd voor . . . en niemand wil sien hoe mense wat lank vir hul reisavontuur van 'n leeftyd gespaar het, met nare herinnerings opgesaal bly sit nie.

“Al is dit omtrent onmoontlik om te weet wanneer skelms jou in hul visier gaan kry, is dit belangrik om te weet watter soorte swendelary bestaan, en wat om in ’n bepaalde situasie te doen,” sê Anthony Grant, uitvoerende hoof van FNB Foreign Exchange. As jy byvoorbeeld ’n bedrogslagoffer word terwyl jy oorsee reis, kan dit jou hele reiservaring bederf.

“As jy as toeris oorsee reis, sal bedrieërs jou dikwels as ’n maklike teiken beskou. Doen dus eers navorsing oor algemene reisslenters die wêreld oor en ook spesifieke slenters in die land wat jy wil besoek sodat jy bedag is op taktieke wat skelms daar gebruik,” sê Anthony.

Hier is ’n paar algemene skelmstreke wat reis betref.

Vals reisagente

Dit is dalk baie gerieflik om jou hele reisprogram aanlyn by een tussenganger te bespreek, maar voornemende reisigers moet katvoet loop vir skelms wat hulle as reisagente voordoen. Om te verhinder dat jy dalk op dié manier derduisende rande verloor, moet jy eerstens lont ruik wanneer ’n reispakket te goed klink om waar te wees. Moet nooit vir iets betaal tensy jy seker is jy het met ’n gerekende, betroubare instelling te make nie.

Vals agente skep webtuistes wat baie soos die ware Jakob lyk en vra voornemende reisigers om hul besonderhede, insluitend kredietkaart-details, te verskaf. As hulle eers jou kaartbesonderhede het, kan hulle uiteraard geld by jou rekening aftrek vir ’n “oorsese reis” wat jy eindelik op jou maag sal moet skryf. Stel jy ondersoek in, sal jy dan agterkom die webtuiste is uit die staanspoor geskep om niksvermoedende aspirantreisigers te verneuk.

Geldeenheid-kullery

Raak eers deeglik vertroud met die geldeenheid van die land wat jy gaan besoek, onder meer om seker te kan maak jy kry die regte kleingeld as jy daar inkopies doen. Daar sal altyd oneerlike handelaars wees wat buitelandse reisigers probeer uitbuit deur byvoorbeeld voor te gee jy het hulle te min betaal. Dit is een van die slenters om jou te verwar en meer geld uit jou te kry, bloot omdat jy nie ’n geldeenheid ken nie. Maak dus seker jy weet hoe dit werk en tel die kleingeld wat jy ontvang.

Fopkaartjies vir vermaakgeleenthede

Baie reisigers wil die plaaslike kultuur en vermaak by hul bestemming ervaar, maar wees versigtig oor hoe jy dit wil doen. Moet nooit kaartjies vir byvoorbeeld ’n konsert of sportwedstryd by vreemdelinge op straat koop nie. Sulke aanbiedinge lyk dalk na ’n winskoop, maar dit kan ewe maklik ’n slenter wees. As jy ’n geleentheid wil bywoon, koop eerder kaartjies by ’n amptelike kooppunt.

Kastige toergidse

Moenie hulp aanvaar van vreemdelinge wat hulle as toergidse aan jou voorstel nie; hulle kan lid wees van ’n misdaad- of uitbuitingsindikaat. Hulle kry dalk byvoorbeeld kommissie as hulle jou sover kry om vir duur items of uitstappies op te dok. Wees katvoet vir enigiemand wat aanbied om jou besienswaardighede te gaan wys. Gebruik eerder gidse wat deur jou reisagentskap toegewys of aanbeveel is.

Kaartbedrog

Weier eerder hoflik as jy dalk ’n oproep kry van iemand wat sê hulle verteenwoordig die hotel of ander blyplek waar jy tuisgaan en hulle wil jou bankkaartbesonderhede nagaan. Gaan stel self by die hoteltoonbank vas of dit ’n regmatige oproep was. Deur die onwettige verspreiding van inligting kan bedrieërs genoeg oor jou te wete kom om jou te kontak en jou te laat dink hulle is wie hulle sê. Maar as jy eers jou betalingsbesonderhede vir hulle “bevestig” het, kan jy skielik transaksies op jou rekening sien wat niks met jou reiskoste te make het nie . . .

’n Mens kan ook gerekende en veilige alternatiewe betaalmetodes soos die aanlyn PayPal-stelsel oorweeg.

“Die belangrikste is om maar deurentyd op jou hoede te wees, ongeag jou bestemming,” sê Anthony.