Gister nog was jou laerskoolkind gehoorsaam, maklik om mee te kommunikeer en ’n plesier in die huis. Maar nou is hy skielik buierig en beduiweld – tienergrille wat jy gedink het nog ver in die toekoms wag . . .

Die waarheid is dat kinders tussen 10 en 12 net so nukkerig as tieners kan wees, sê Loni Gildenhuys, ’n gesinsberader van Johannesburg. En geen wonder nie: Dis glad nie maklik om met jou een voet in jou kindertyd en die ander in jou tienerjare te staan nie.

Waarom is my kind skielik moeilik?

Ampertieners verduur meer stres as wat ons aldag besef. Hul lyf begin skielik verander, die skoolwerk word meer, en dan moet hulle nog hul plekkie in die sosiale son vind.

Daarby ontwikkel ’n ampertiener se lyf vinniger as sy emosionele volwassenheid, en hy kan sukkel om sy veranderende liggaam emosioneel te verwerk, sê Loni. Die gevolg: nukkerigheid en uitbarstings.

Nog ’n faktor is ’n nuwe strewe na onafhanklikheid, wat veroorsaak dat jou ampertiener graag terugpraat of jou uitdaag, sê Melissa Bothma, ’n opvoedkundige sielkundige van Kaapstad.

Een van die maniere waarop ampertieners hul onafhanklikheid vestig, is deur meer tyd saam met hul vriende te wil deurbring as saam met hul gesin.

Die probleem is egter dat nie almal in jou kind se portuurgroep ewe vinnig ontwikkel nie, waarsku Loni. “Een is dalk nog pure kind en wil liewer buite speel, terwyl sy klasmaat al vir meisies begin loer.” As jou kind teen ’n stadiger pas ontwikkel, kan sy portuurgroep hom as “nie koel genoeg nie” beskou en hom afknou.

Hoe kan ek help?

Loni en Melissa deel die volgende wenke:

-        Gebruik voorbeelde uit jou jeug: Deel jou ervaring van puberteit, hormone en grootword – dit sal jou spruit help besef jy verstaan.

-        Stel ’n voorbeeld: As jy gil en jou humeur in ’n argument verloor, gaan jy jou kind aanmoedig om net so op tree. Probeer konflik kalm en rustig oplos.

-        Moenie te veel vryheid gee nie: ’n Ampertiener is nog ’n kind en behoort nie soos ’n tiener of jong volwassene behandel te word nie. Stel grense, wees ferm en moenie ongehoorsaamheid duld nie. Maak hom terselfdertyd waar moontlik by besluite betrokke – dit sal sy sin vir onafhanklikheid help bevredig.

-        Laat hom toe om met sy vriende te kuier en kommunikeer, maar wees streng daaroor dat dit eers kan gebeur as sy huiswerk en ander take klaar is.

-        Breek stereotipes af: Kinders is baie beïnvloedbaar en kan knak onder druk dat hulle so maer of mooi as glanspersoonlikhede moet wees. Verduidelik dat tydskrfte foto’s met rekenaars opkikker en dat die regte lewe nie soos flieks en TV-reekse werk nie.

-        Betree hul wêreld: Vra uit oor jou kind se musieksmaak, gunsteling-TV-reeks, gunsteling-skoolvak en vriende. Nie net sal jy leer of hulle aan slegte invloede blootgestel word nie, dis ook ’n lekker gespreksonderwerp wat julle nader aan mekaar kan bring.

Moet seuns en meisies verskillend hanteer word?

Baie meisies begin voor 12 jaar oud borsies kry en menstrueer. Wees sensitief hiervoor en gaan uit jou pad om hulle nie skaam te laat voel nie.

Maar onthou steeds: Elke kind is uniek, wat ook al sy geslag, en moet liefs volgens sy persoonlikheid hanteer word. Vra jou af hoe ontwikkeld sy lyf is, hoe emosioneel intelligent hy al is en hoe emosioneel volwasse sy vriendekring is. Laat dit jou lei.

En hoe gemaak met die hormone wat pla?

’n Laerskool-kys is nie ongewoon nie en ongelukkig is laerskoolkinders ook soms seksueel aktief.

As ampertieners saamkuier, moet daar dus ouertoesig wees – op dié ouderdom het jy definitief nog ’n groot sê in jou kind se lewe, sê Melissa.

“Dis ook belangrik dat jy jou kind goed ken – dan sal jy weet of jy sake soos seks moet aanroer.”

As jou kind in ’n verhouding is, kan jy gerus die rede vir die verhouding gaan soek, is Loni se raad. Baie jong kinders verbeel hulle hulle het verhoudings, maar eintlik is dit nog onskuldige vriendskappe. Sommige kinders voel ook meer gemaklik op hul eie, terwyl ander geselskap verkies. Dít kan die rede wees waarom jou 10-jarige ’n “kêrel” het.

As jy ongemaklik voel oor die verhouding, moet jy dit met jou kind bespreek en verduidelik hoekom jy dit nie goedkeur nie, sê Loni.

“As jy nee sê, beklemtoon dit wat hulle uit die situasie wen, pleks van die gesprek te fokus op wat hulle moet prysgee of verloor.”

En verder moet jy maar vasbyt en jou daaraan troos dat dié fase ook sal verbygaan . . .