Al Hoessein bin Abdoellah II, oftewel prins Hoessein, kroonprins van Jordanië, is die oudste van koning Abdoellah II en sy vrou, koningin Rania, se vier kinders.

Dié 22-jarige prins is nie net in sy vaderland gewild nie; hy kook ook op Instagram. Sy getal aanhangers op dié sosiale netwerk trek al by die 802 000. Die hartebreker is lief daarvoor om kiekies van homself op sy Instagram-profiel te deel en sy aanhangers kan nie genoeg kry daarvan nie.

Party verklaar hul liefde vir hom, ander vra hom sommer reguit om met hulle te trou. En hoe dan anders? Dié troonopvolger van Jordanië is immers ’n vangs en ’n half.

Hoessein het ’n graad in internasionale geskiedenis van die Georgetown-universiteit in Washington agter sy naam en is mal oor lees en sport, veral sokker.

Boonop is hy ’n eerste luitenant in Jordanië se gewapende weermag en hy het verlede jaar op 20 die jongste mens nog geword wat voorsitter is van ’n vergadering van die Verenigde Nasies (VN) se veiligheidsraad.

Die sekretaris-generaal van die VN, Ban Ki-Moon, het toe gesê: “Hy is nog nie eens 21 jaar oud nie, maar hy is reeds ’n leier in die 21ste eeu.” Maar wie is dié jong toekomstige koning van Jordanië wat mense se knieë so lam maak? Hier is vyf goed wat jy oor dié sexy prins moet weet: 1 Hy is mal oor motorfietse – nes sy pa! Hoessein deel gereeld op Instagram kiekies van waar hy agterop ’n motorfiets die langpad vat.

2 Hy is nie skaam om sy moue op te rol en koninklike pligte uit te voer nie. Boonop is hy gewild waar ook al hy gaan. Sy landgenote staan selfs tou vir foto’s saam met hom.
3 Hy is soos ’n regte Jason Bourne. Hy het weermagopleiding, is verslaaf aan adrenalien, spring uit vliegtuie . . . Wat meer kan ’n mens vra?
4 Hoessein het twee jonger susters, prinsesse Iman (19) en Salma (15), en ’n jonger boetie, prins Hasjem (11). Hy is dol daaroor om foto’s van sy hele gesin op Instagram te deel. Hy het nie net sy ma, koningin Rania, se mooi gene geërf nie; ma en seun sweet tot saam in die gimnasium!
5 Hy is avontuurlustig, hou van die buitelewe, kan die kitaarsnare tokkel en kan selfs kook . . . Hou, hart, hou!

Bronne: dailymail.co.uk, us.hellomagazine.com