Wie sê die voormalige Bokheld Joost van der Westhuizen kan nie meer punte aanteken nie?

Joost het Vrydag ná ’n spanningsvolle hofstryd in die hooggeregshof in Pretoria teen die Getrouheidsfonds vir Prokureurs weer sukses behaal, toe waarnemende regter Lester Adams die fonds se appèl om nie Joost se geld uit te betaal nie, ter syde stel.

“Ons is baie, baie verlig,” het Ferdie Hartzenberg, Joost se prokureur ná afloop van die saak skoon uitasem gesê. Hy glo geregtigheid het geskied.

“Ten spyte van die feit dat die Getrouheidsfonds reeds aangedui het dat hulle ’n petisie van die hoogste hof van appèl gaan rig, bepaal die uitspraak van regter Adams dat die bevel in werking bly en moet die fonds in die tussentyd die volle bedrag uitbetaal.”

Die regter het vroeër ná ’n dringende aansoek deur Joost om R385 665 van die fonds te verhaal, beslis hulle moet die geld dadelik met regskoste aan Joost uitbetaal. Die hof het aanvaar sy eertydse prokureur en sakevriend Robert Klinkenberg, wat in Desember 2015 dood is, het na alle waarskynlikheid dié geld, wat hy vir dringende mediese onkoste aan hom toevertrou het, gesteel.

Die fonds het twee dae later teen dié beslissing geappelleer. Hulle het aangevoer al het hulle begrip vir die omstandighede waarin Joost hom bevind, die hof met betrekking tot ander sake in sy interpretasie van die wet, nie konsekwent opgetree het nie.

Netwerk24 het berig Joost se regspan het aangevoer die is egter ’n “een uit 'n miljoen-tipe saak”.

Joost ly sedert 2011 aan die ongeneeslike motorneursonsiekte en is aan 'n rolstoel gekluister. En dié hof het bevind dit is ’n saak van “lewe en dood” dat Joost sy geld kry.

En nou het die hof gelas hy móét.