Kaapstad – Die voormalige Springbok-skrumskakel Joost van der Westhuizen voorspel ’n droewe toekoms vir Springbok-rugby.

Joost, wat aan terminale motorneuronsiekte ly, blyk onsteld te wees oor die onlangse probleme van die veld af rakende die Springbokke.

Dit is nie presies duidelik waaroor Joost ontsteld is nie, maar dit is nie moeilik om te bespiegel nie.

Die Springbokke het vanjaar ’n swak seisoen beleef en al drie hul rugbykampioenskapwedstryde verloor, onder meer ’n eerste nederlaag ooit teen Argentinië.

Hulle het ook ’n vernederende nederlaag teen Japan in die Rugbywêreldbekertoernooi gely voor hulle tot die halfeinstryd gevorder het, waar die All Blacks hul kanse op die titel beëindig het. Die Bokke het verlede maand nog ’n slag gely toe twee hoofborge, Absa en BMW, hul verbintenis met die span beëindig. En die afrigter Heyneke Meyer het verlede week bekend gemaak hy wil nie weer om sy pos aansoek doen wanneer sy kontrak aan die einde van die jaar verstryk nie.

“Wie ook al vir die pos wil aansoek doen, moet weet transformasie gaan bo-aan sy agenda wees."

Ná Heyneke se bedanking het Saru Vrydag ’n perskonferensie by sy hoofkwartier in Plattekloof gehou waar die president Oregan Hoskins joernaliste toegespreek het.

Daar het Oregan dit duidelik gemaak dat wie ook al as die nuwe afrigter aangestel word, transformasie as belangrikste taak sal hê. Saru se mikpunt is dat die Springbokspan teen 2019 uit 50 persent swart spelers moet bestaan.

“Wie ook al vir die pos wil aansoek doen, moet weet transformasie gaan bo-aan sy agenda wees; anders moet hy nie aansoek doen nie,” het Oregan beklemtoon.

“Ons as ’n organisasie gaan veel harder moet werk as ooit tevore. Ons het nie nog ’n kans nie. Ons het ’n ooreenkoms met die sportbestuursliggaam in die land (Saskok) en die ministerie het dit onderteken en ons glo daain. Dus moet ons as ’n sport vorentoe gaan met dit in gedagte.”

Terwyl daar vir die oomblik geen spesifieke kwotastelel sal geld nie, sal daar kwaai druk op die volgende afrigter wees om meer swart spelers te kies.

Die 44-jarige Joost het van 1993 tot 2003 altesaam 89 toetse vir die Springbokke gespeel.

Hy het 38 drieë aangeteken (’n destydse Springbok-rekord) en is algemeen as een van die beste skrumskakels nog beskou.

Bron: Sport24