joostkylie2Joost en Kylie. KLIK HIER vir 'n fotogalery van die boekbekendstelling. 

Die middag is ’n warboel van opwinding en hartseer. Joost van der Westhuizen (42) is nie net ’n oud-Springbok, ’n motorneuronsiektelyer en held nie, hy is ook ’n broer, ’n seun en die belangrikste van alles, ’n pa.

Vandag word die boek by die restaurant Stone Cradle in Doornkloof bekendgestel en Joost se naastes is daar om hom te ondersteun.

Kylie sit skaam langs haar pappa en kruip agter ’n iPad vir die aandag en kameras weg. Jordan kon ongelukkig nie by die funksie wees nie.

“Dis ’n groot ding wat Joost doen vir sy kinders en die mense wat die boek gaan lees. Sy wysheid kom in hierdie boek duidelik na vore, al wil sy liggaam nie meer so goed werk nie,” vertel sy ouboet, Pieter (43).

Veral mense wat deur ’n moeilike tyd gaan, kan by dié boek baat vind. “Hier skryf iemand wat ’n doodsvonnis oor sy kop het. Mense kan leer uit die positiwiteit wat uit die boek kom. Jy moet voluit lewe en nie toelaat dat iets jou onderkry nie,” sê Pieter, die besturende direkteur van die J9-stigting se klere-afdeling.

Hy en Joost was op skool baie mededingend, vertel Pieter, en dink met heimwee terug aan die ou dae. “Elke sport wat ons teen mekaar gespeel het, moes die een die ander wen.” Joost se deursettingsvermoë het Pieter ’n belangrike lewensles geleer: “Moet tou opgooi nie; doen wat jy glo. Toe hy in matriek was, het hy gesê hy gaan ’n Springbok word en hy het elke middag ná skool doelgerig geoefen. Dit was vir my so ’n groot voorreg om te sien dat sy droom verwesenlik word.”

Joost se pa, Gustav, sê reguit hy het by Joost geleer blymoedig wees. Sy ma, Mariaan, beaam dit. “Hy is altyd gemotiveerd en bereid om iemand te help. Hy het uit sy foute geleer, baie dinge deurgemaak en nou baie dinge bereik. Behalwe vir sy rugbyloopbaan, waar hy bo uitgekom het, het hy by die Here uitgekom. Dis vir ons belangrik. Ons is baie trots op hom,” sê sy.

Joost bly beskeie. “Dis ’n klein ding wat ek bereik het, maar hopelik met ’n groot uitwerking. Ek is baie gelukkig,” vertel hy moeisaam. Wat gaan die boek vir ander beteken? “Hul eie emosie gaan bepaal wat hulle uitkry. Dit hang af of jy bereid is om eerlik te wees met jouself.”

Die boek is die tweede projek om geld in te samel vir Joost se mediese onkoste. Vroeër is die lied Nommer 9 deur Kaptein Skuim uitgereik. “So baie mense het gesê hulle wil Joost ondersteun, want hy het mense soveel plesier gegee op die rugbyveld. Hulle wil daar wees vir hom. Ons het besluit om projekte te begin om vir hom geld in te samel, want sy mediese koste is nie ’n grap nie,” vertel Pieter.

Pieter het ’n boodskap vir sy broer. “Ek sien uit na wanneer jy gesond gaan word,” sê hy en kry ’n knop in sy keel. “Jammer,” vra hy verskoning. “En vir wanneer ons Desember gaan gholf speel.”

  •  Deur ’n kopie van hierdie boek te koop, dra jy R10 per eksemplaar by om Joost se mediese onkostes te help dek.

Meer oor die J9-stigting:

Joost van der Westhuizen het die J9-stigting begin nadat motorneuronsiekte (MNS) in 2011 by hom gediagnoseer is. Die doel van die stigting is om ander MNS-lyers finansieel en emosioneel te ondersteun. Dié organisasie skep ook ’n platform waardeur die publiek en korporatiewe sektor ’n bydrae tot die lewensgehalte van MNS-lyers kan maak.

Die J9-stigting se hoofdoel is om persoonlike aandag en ondersteuning te bied aan die families van MNS-lyers. Die span, insluitend Joost, besoek die families om hul unieke behoeftes te identifiseer – nog inligting oor die siekte, hulpbronne of selfs net om ’n oor te wees wat luister en verstaan.

Joost het besluit om nie persoonlik baat te vind by die geld wat deur die stigting ingesamel word nie. Sy eie mediese uitgawes word onafhanklik van die stigting bestuur.

Besoek ook: 

KLIK HIER vir 'n fotogalery van die boekbekendstelling

http://www.joost.co.za/