Volgens Sean Hefferman van LP Baartman Prokureurs, Amor se regsverteenwoordiger, het Ferdi Hartzenberg, Joost se prokureur, hom eers Dinsdagmiddag ingelig hulle gaan berus by die meester van die hof se besluit.

Odette Schwegler, die Van der Westhuizen-familie se woordvoerder, het Woensdagoggend telefonies aan Huisgenoot.com bevestig die familie het inderdaad Ferdi dié opdrag gee: “Dit is waar. Die familie het besluit om nie die aangeleentheid verder te voer nie,” het sy gesê. 

Sy het in ’n verklaring gelees: “Die meester van die hooggeregshof het nie Joost se laaste testament aanvaar nie, want hy was fisiek nie daartoe in staat om te teken nie en dit het nie aan die wetlike vereistes voldoen om as bindend beskou te word nie. Die familie het besluit om nie die hooggeregshof te nader om hierdie testament geldig te verklaar nie. Die verskil tussen die laaste en oorspronklike testament is dat Amor die begunstigde van die oorspronklike een was en hul kinders, Jordan en Kylie, die begunstigdes van die laaste een is. Joost het in wese alles aan die kinders bemaak. Sy kinders bly die begunstigdes van die trust. Die trust betaal ’n maandelikse inkomste aan me. Vittone as onderhoud vir die kinders.” 

Dié onthulling aan Amor se kamp dat die dringende aansoek laat vaar is, het gekom nadat Huisgenoot Dinsdagoggend navraag gedoen het oor ’n berig in Pretoria News, waarin Ferdi waarin dit bevestig het. Ferdi het toe geweier om dit aan Huisgenoot.com te ontken of bevestig. 

Die dringende aansoek sou gebring word nadat die meester van die hof vroeër Joost se laaste testament, wat in September 2015 sonder Amor se medewete opgestel is, ter syde gestel het.

Dit was omdat Joost dit nie onderteken het nie en dit nie aan die wetlike vereistes voldoen het ingeval iemand nie in staat is om dit te onderteken nie. 

Amor se kamp het Dinsdag by navraag oor die berig gesê: “Ons is nie daarvan verwittig óf bewus daarvan dat Joost se familie die strydbyl begrawe het nie; volgens ons word die testament steeds betwis.”

Volgens Sean het hy Ferdi genader en Ferdi het toe aan hom toegegee hulle sal by die meester van die hof se beslissing berus oor die testament wat hy (Sean) ingedien en die vervreemde egpaar saam in 2009 onderteken het. 

Volgens dié testament erf Amor én die kinders alles.