[caption id="attachment_147875" align="aligncenter" width="600"]xx Die oud-Bokheld Joost van der Westhuizen se eksvrou, Marlene Duvenage, het onlangs by hom gaan kuier. Foto: Verskaf[/caption]

Marlene (44), wat 15 jaar gelede van Joost geskei is, vertel aan Huisgenoot Donderdag se besoek was nie ’n eerste nie; sy het Joost al ’n paar keer vantevore gaan sien.

“Sjoe, dit is erg om hom so te sien. Ek skrik elke keer, want elke keer wat ek hom sien het sy toestand agteruitgaan," vertel Marlene.

"Maar hy is nog net so positief en vol grappies soos altyd. Hy skryf vir my op die EyeTracker en dan maak ek sy sinne vir hom klaar, maar jy weet dit irriteer mos mense wat hakkel, maar Joost lag net vir my. Ek moet, anders neem dit te lank.”

Joost, wat in Midrand, Gauteng woon, is die laaste vyf jaar afgetakel met Motorneuronsiekte (MNS) en is in ’n rolstoel gekluister.

Hy kommunikeer deur middel van ’n sogenaamde EyeTracker-rekenaar wat die beweging van sy oë volg en met ’n robotstem praat en op ’n skerm skryf.

Marlene, wat die afgelope ses jaar met Japie Duvenage (51), ’n direkteur van Citadel, ’n groot welvaartmaatskappy, getroud is, vertel sy was al so vier of vyf keer by Joost aan huis en hy het al haar kinders Janie (4) en Daniel (2) ontmoet.

[caption id="attachment_147882" align="aligncenter" width="600"]xx Marlene saam met haar kinders, Janie en Daniel, en haar man, Japie. Foto: Verskaf[/caption]

“Ek was die keer sonder hulle daar en hy het gevra ek moet nie weer sonder hulle kom kuier nie,” vertel sy.

Hennie van Deventer, ’n familievriend en kliënt van haar man, het Dinsdag op Facebook van Marlene se “klinkende Kersdaad” vertel.

Joost en Marlene sou vanjaar 21 jaar getroud gewees het.

“Ons bewonder jou vir jou grootmoedigheid en jou deernis, Marlene. Dit moes vir Joost baie beteken het,” het Hennie geskryf.

Op haar beurt het Marlene ook op Facebook erken haar laaste besoek aan haar eksman was ’n emosionele ervaring.

"Bietjie nostalgies vandag na ’n week van emosionele omswerwinge. Eers by Joost gekuier en hoewel mens elke keer skrik om hom so te sien, voel jy ondanks die trane en knop in jou keel amper verbysterd deur sy positiewe houding.

"Hy was weer vol grappies en stories al is dit in ’n vreemde blikstem. Hy en my pa het grappies uitgeruil en lekker saam gelag.”

Marlene werk steeds deeltyds as persoonlike afrigter by ’n landgoed naby haar en Japie se huis. Verder hou sy haar besig met haar kinders en hul honde en perde op hul kleinhoewe. Sy is ook betrokke by dierewelsynsorganisasies soos Wet Nose.

Weens Joost se verswakte toestand kuier sy net ’n halfuur op ’n slag by hom.