Joost is Maandag ná ’n lang stryd teen motorneuronsiekte oorlede.

“Die manier hoe hy die afgelope vyf of ses jaar geveg het . . . dit is die soort speler wat hy was,” het Kobus Maandag aan Sport24 gesê.

“Hy het gedurig alles uitgehaal op die veld en het nooit gaan lê of ‘nee’ vir ’n antwoord aanvaar nie. Dis hoekom hy so mededingend was. Ons het dit teen die einde weer gesien. Hy wou nie tou opgooi nie en dit sê baie oor die mens wat hy was.”

Kobus sê dit was “ongelooflik” hoe Joost soveel van sy tyd daaraan gewy het om mense van die siekte bewus te maak, selfs toe sy gesondheid agteruitgegaan het.

“Ek dink die manier hoe hy – in sy toestand – die wêreld platgereis het om mense van die aaklige siekte bewus te maak, wys dat hy hom uitstekend van sy taak gekwyt het.”

Kobus onthou hoe in die wolke Joost ná die Wêreldbeker-eindstryd in 1995 was, en onthou wat daardie tyd so spesiaal gemaak het.

“Dit was soos ’n gelukkige familie. Die span was baie gelukkig. Ons is vandag nog geheg aan mekaar.”

Hy onthou Joost as een van die taaiste teenstanders om teen te speel.

“Hy was een van die min skrumskakels wat nie weggeskram het van die teenstanders se voorspelers nie. Dit was net sy manier van speel. Hy was uiters mededingend. Hy was nie iemand wat maklik gaan lê het nie.”

Kobus sê hy en die res van die Wêreldbeker-rugbyspan van 1995 is deel van ’n WhatsApp-groep wat amper daagliks kommunikeer en dat hulle almal saamstem Joost het nou vrede.

“Hy het genoeg gely. Hy het regtig alles gegee en ek dink almal stem saam hy is nou beter daaraan toe.”

Bron: Sport24