Die nuus het op Vrydag die 13de bekend geword. En skielik het alles anders wat ’n mens tevore oor Joost van der Westhuizen gehoor het, vervaag voor die skok: Die briljante gewese Bok-skrumskakel ly aan dodelike motorneuronsiekte.

“Dit is seker een van die ergste dinge vir ’n neuroloog om aan ’n pasiënt te moet sê hy of sy het otorneuronsiekte,” sê dr. Izak Burger, ’n neuroloog van Kaapstad wat talle pasiënte met hierdie siekte behandel het.

Deur die jare moes hy al magteloos toekyk hoe sy pasiënte een vir een sterf. En as hy reg is oor die vorm van die siekte wat Joost het, en sy siekte volg die gemiddelde patroon, het Joost moontlik nog net 18 maande oor om te leef.

Die hartverskeurende feit is dat die gemiddelde oorlewingstyd vir pasiënte met amiotrofieselaterale sklerose, die algemeenste vorm van motorneuronsiekte en die een waaraan 90 persent van alle slagoffers ly, ’n skrale jaar en ’n half is. En vir Izak lyk dit asof dié vorm Joost getref het.

Hy voeg by dat sommige lyers wel tot vyf jaar oorleef, al is dit dan in groot ongemak.

Die siekte tref net twee uit 100 000 mense, wat steeds beteken dat duisende Suid-Afrikaners daaraan ly. Die oorsaak is onbekend, maar dit kom veral by mense oor 40 voor, gewoonlik tussen 50 en 70 jaar. Jou kans is twee keer meer as jy ’n man is.

Motorneuronsiekte val senuweeselle in jou brein en ruggraat aan wat seine na die spiere stuur om beweging te beheer – dus die spiere wat jou laat loop, praat, sluk, asemhaal. Die selle en spierfunksie kwyn sodat jy toenemend hulpeloos word, maar jou verstand bly in die meeste gevalle, buiten ’n baie klein persentasie, helder.

Lees meer in die Huisgenoot van 26 Mei.

Volg Huisgenoot op Twitter.